Maryka geloof ná sege
2011-08-08 08:13
Bloemfontein – Maryka Holtzhausen se oorheersing in die doelsirkel was een van die vernaamste redes waarom die Lightning Roses in die eindstryd van die Netball Grand Series geseëvier het.
Só sê Elize Kotzé, breier van die Galaxy Blues, nadat hulle hul Saterdag hier met 32-46 teen die Lightning Roses vasgeloop het.
“Die verskil was beslis spelers soos Maryka Holtzhauzen, asook Claudia Basson.”
Kotzé was dit eens dat die Roses se hoofdoel, Basson, ’n afdag beleef het.
“Maar Maryka het daai sirkel dikteer – sy’t van enige plek af geskiet. Ons het ’n keer gesels en genoem dat as jy werklik onaantasbaar wil wees, moet jy van enige plek af kan skiet.
“Dit is ontmoedigend vir enige span as die bal van enige plek in die sirkel ingeskiet kan word. Sy het vandag net weer bewys hoekom sy die voorste hulpdoel in Suid-Afrika is,” sê Kotzé, wat ook afrigter van die Proteas is.
Volgens haar het die Roses uit die staanspoor goed as ’n eenheid gespeel en dat daar van die eerste minuut vloei en ook goeie vaart was.
“Daarenteen het ons gesukkel om ritme te kry. Dit wys ook die kaliber verdediging waarteen ons te staan gekom het.”
Die wenspan se kaptein en verdediger, Adele Niemand, is goed bygestaan deur Karla Mostert, wat self ’n klompie balle onderskep het.
Niemand het Chrisna Bootha kwaai gepla in die eerste twee kwarte toe sy nog die Blues-hoofdoel was.
Dis straks ook die rede waarom Bootha later na hulpdoel verskuif is en Vanes-Mari du Toit onder die doelpaal ingespan is.
Die Blues het ná die rustyd (15-27) met ’n klompie posisionele skuiwe heelwat beter vertoon.
Kotzé sê om ’n agterstand van 12 doele uit te wis, was steeds ’n bietjie dik vir ’n daalder, maar dat hulle toe effens tot hul reg gekom het.
Die Roses het heeltyd met hul beginspan volhard en daar sal gesê word die geweldige pas van die eerste twee kwarte het dalk ná rustyd sy tol begin eis. Holtzhausen sê dis nie so nie, hulle het net ’n bietjie lank gevat om aan te pas met die veranderings wat die Blues gemaak het.
Holtzhauzen het twee keer gedurende die wedstryd met beserings bly lê en hoop nie dit is te ernstig met die nasionale toernooi wat vandeesweek in Belville gespeel word.
* Die Starlight Jets het die bronsmedalje gewen nadat hulle die Black Diamonds (52-39) geklop het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24