Louis Oosthuizen maak dit 3 uit 3
2011-01-10 08:35
Oos-Londen – Die Sonskynreeks se somerseisoen het Sondag sy vierde kampioen in vier toernooie opgelewer toe die groot gunsteling, Louis Oosthuizen, die uitdagende Oos-Londen-gholfbaan getem het vir die derde Europese titel van sy loopbaan.
Oosthuizen het die Afrika-ope ná ’n uitspeelstryd teen die Spanjaard Manuel Quiros en Engeland se Chris Wood gewen.
Hy het vir breë glimlagte op die gesigte van die raserige plaaslike skare én die organiseerders van dié jong toernooi gesorg.
Dit was die derde agtereenvolgende jaar dat een van Suid-Afrikaanse gholf se groot kanonne dié titel wen. Retief Goosen en Charl Schwartzel het die vorige twee jaar die trofee gelig.
Dit het ook nog ’n groot hoogtepunt in ’n uitstekende gholfseisoen opgelewer.
Die somerreeks het begin met ’n sege vir die voorste speler in die wêreld, Lee Westwood van Engeland, in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City.
Toe het sukses vir die verdedigende kampioen, Pablo Martin, in die Alfred Dunhill-toernooi gevolg en daar was weer glorie vir Ernie Els in die 100ste Suid-Afrikaanse Ope.
Oosthuizen het die laaste ronde as die gesamentlike voorloper begin, maar hy kon oor die eerste nege putjies nooit werklik sy stempel afdruk nie en ’n rits spelers het by hom verbygeskuif.
Hy is veral deur sy setyster versmaai, met sy balletjie wat by twee geleenthede rondom die bek van die blikkie gerol het.
Hy het ook ’n handvol ander kanse vir voëltjies rakelings laat verbyglip.
Hy, Wood en Quiros het op 276 houe geëindig.
Eindelik het dit een ekstra putjie geverg vir die Britse Ope-kampioen om nog ’n Ope-titel by sy lys te voeg – maar hy het dit so byna van die bof af weggegooi.
Sy bal het links getrek, maar die geluksgodin het vir hom geglimlag en dit van die heuwel langs die skoonveld tot in ’n gunstige posisie laat terugspat.
Van daar af kon hy sy naderhou tot sowat drie meter van die blikkie slaan, voordat Wood sy tweede hou te kort gespeel en Quiros se poging bo-oor die setperk getrek het.
Albei het goeie voëltjie-pogings gehad: Quiros se kaphou was goed op koers voordat dit op die laaste oomblik weggedraai het en Wood se sethou het die teiken net-net gemis. Oosthuizen het geen fout begaan nie.
Sy bal het in die middel van die blikkie geval en dit het tot oorverdowende toejuiging gelei.
Schwartzel en die Pretorianer Jaco van Zyl het ’n hou agter die voorlopers geëindig ná rondtes van 70.
Branden Grace en Jbe’ Kruger het die tweede agtereenvolgende jaar top10-uitslae hier behaal.
Hulle het op 279 geëindig, in die gesamentlike 8ste plek.
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24