Leonard Chuene skuldig bevind
2011-02-14 13:30
Kaapstad - Die geskorste president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Leonard Chuene, is Maandag saam met die vise-president Kakata Maponyane en direkteur Simon Dlamini skuldig bevind nadat verskeie klagte teen hulle deur 'n dissiplinêre komitee ondersoek is.
Swak bestuur, wanbesteding van geld en belastingontduiking is van die klagte wat deur adv. Norman Arendse ondersoek is nadat Suid-Afrika se Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) die drie ASA-lede in 2009 geskors het.
Een van die redes hoekom Chuene geskors is, is oor sy hantering van die Caster Semenya-geslagskwessie.
Adv. Arendse het sy bevinding aan ASA sowel as Saskok oorhandig waarna dié sportliggame kon kies of hulle wil reageer en of hulle die bevinding aan Arendse wil teruggee vir tugstappe.
Saskok het gekies om die bevinding terug te oorhandig en gevolglik het Chuene, Dlamini en Maponyane tot Donderdag, 17 Februarie om teen die bevinding te appelleer. Daarna sal die dissiplinêre komitee sy tugstappe aankondig.
"Ons is tevrede met die integriteit van die hele proses asook die ondersoek. En enige aksie wat deur die ondersoek voorgestel word sal aanvaar word as die finale besluit," het Saskok se uitvoerende hoof, Tubby Reddy, gesê.
Chuene het geweier om sy tugverhoor by te woon en nie hy of sy regsverteenwoordigers het opgedaag om getuienis teen hom aan te hoor nie.
Volg Nuus24 op Twitter.