Leonard Chuene se plaasvervanger aangewys
2011-07-30 13:16
Johannesburg - James Evans is Saterdag as die nuwe president van Atletiek SA (ASA) aangewys.
Evans vervang die geskorste Leonard Chuene.
Die pos was vakant ná die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie (SASCOC) Chuene en die voormalige ASA-adjunkpres. Kakata Maponyane in Februarie oor finansiële ongerymdhede die trekpas gegee het.
Chuene is vir sewe jaar verban van betrokkenheid by enige sport onder die jurisdiksie van SASCOC, en Maponyane is vyf jaar lank verban.
Die aankondiging is Saterdag deur 'n ASA-amptenaar gemaak ná 'n spesiale vergadering in Johannesburg.
"Ek hoop 'n oop verkiesing sal stabiliteit vir die sport tot gevolg hê," het Evans Vrydag voor die verkiesing gesê.
Die verkiesing vir 'n adjunk-president vind binnekort plaas.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA