Le Clos begin Spele-pad loop
2011-12-27 08:46
Pretoria – Dankie tog vir Cameron van der Burgh en Chad le Clos se vertonings, want anders was daar vanjaar bitter min om oor opgewonde te raak in Suid-Afrikaanse swem. Daar sal sekerlik diegene wees wat met dié stelling verskil.
Hulle sal aanvoer dat Swem Suid-Afrika (SSA) op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings-dinee aangewys is as die Sportfederasie van die Jaar; Cameron van der Burgh is as Swemmer van die Jaar en Chad le Clos as die Belowendste Nuweling aangewys.
Maar die toekennings is soos versiersuiker op ’n koek. Dit mag miskien mooi lyk of goed klink, maar die vraag is of SA swem regtig kerngesond is.
Kyk ’n mens na vanjaar se koerantberigte oor Suid-Afrikaanse swemprestasies, is daar meesal net oor Van der Burgh en Le Clos se vertonings berig.
Die SA swemspan kon op die Wêreldbyeenkoms in Sjanghai, China, net drie bronsmedaljes wen.
Van der Burgh was derde in die 50- en 100-borsslag en Gerhard Zandberg het brons in die 50-rugslag gewen.
Uit ’n Olimpiese oogpunt beteken dié prestasies nie veel nie, want die 50-borsslag en 50-rugslag word nie op die Spele in Londen aangebied nie.
Die enigste ander swemmer wat op die Wêreldbyeenkoms naby aan die podium gekom het, was die tienderjarige Le Clos.
Hy was vyfde in die 200-vlinderslag in ’n nuwe persoonlike beste tyd.
Van die 24 swemmers wat op die Wêreldbyeenkoms in aksie was, het net 6 eindrondes gehaal.
Van der Burgh het in ’n vroeëre onderhoud met Sapa erken dat daar baie harde werk op die SA swemmers wag voordat enigeen hom of haar daarop sal kan roem dat hulle Olimpiese medalje-aanspraakmakers is.
Geen SA swemmer kon ’n medalje op 2008 se Olimpiese Spele in Beijing wen nie.
Volgens Van der Burgh was hy glad nie opgewonde oor die twee bronsmedaljes wat hy vanjaar verower het nie.
“Om ’n bronsmedalje te wen, is soos om jou suster te soen; daar is niks daarmee verkeerd nie, maar dit is ook niks om oor opgewonde te raak nie,” was die uitlating wat hy aan Sapa gemaak het.
’n Besliste hoogtepunt vanjaar was Le Clos se oorheersing van Fina se Wêreldbeker-kortbadreeks.
Hy het algeheel gewen en op die sewe byeenkomste 35 medaljes – 23 goud, 10 silwer en 2 brons – verower.
Wat verder opwindend was, is dat Le Clos in dié reeks met die multi-wêreldrekordhouer Michael Phelps en die terugkerende Ian Thorpe, twee internasionale swemlegendes, afgereken het.
Soos verwag is, het die SA swemmers skoonskip op die Afrika-Spele in Maputo gemaak.
Hulle het in die 6 dae van hul kompetisie 73 medaljes – 33 goud, 22 silwer en 18 brons – gewen. Dit is 20 meer as op die vorige Spele, in 2007.
* Wat aanstaande jaar se Spele in Londen betref: benewens Van der Burgh en Le Clos, kan Gideon Louw dalk tot die eindronde van die 50-vryslag deurdring en Graeme Moore kan dalk in die 100-vryslag verras.
Die groot vraag is of Roland Schoeman dalk tog in Londen in aksie sal wees.
Prof. Tim Noakes van die Sportinstituut in Kaapstad het Schoeman vroeër vanjaar aangeraai om vir ’n tyd heeltemal van swem weg te breek omdat hy “op breekpunt” was.
As hy dit nie doen nie, kan Schoeman volgens Noakes maar van die Spele vergeet.
Wat vroueswem betref, het Wendy Trott ’n skrale kans om tot die eindronde van die 800 deur te dring.
Van die res moet daar nie veel verwag word nie.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24