Langasem wys slag in Kaap
2010-04-29 08:33
Eunice Visagie
Kaapstad - Hy is gewoond aan 250km se hardloop in woestyne en oerwoude, maar Ryan Sandes meen die driedaagse Pronutro AfricanX-veldwedloop in Kleimond gaan ’n reuse-uitdaging wees.
Die AfricanX, oor 89km, begin op 7 Mei. Die eerste skof strek oor 25km en dit word opgevolg met ’n uitdagende 42km voordat dit op 9 Mei eindig met ’n laaste skof van 22km.
Sandes het die laaste paar jaar bekendheid verwerf as een van die vernaamste uithou-atlete ter wêreld. Dié Houtbaaier het die Gobi- (in China) en Sahara-wedlope in 2008 gewen en was vanjaar reeds in die Atacama (in Chili) baas. Dié wedlope strek oor 250km en bestaan uit ses skofte.
Verlede jaar het die 28-jarige Sandes die oerwoud-marathon in die Amasone (Brasilië) gewen en was hy tweede in die Namibiese Woestynwedloop.
Sandes sien geweldig uit na die uitdaging wat die AfricanX bied.
“Ek het nog nooit aan ’n driedaagse wedloop deelgeneem nie, maar weet uit ervaring dat die tweede en derde dag in meerdaagse wedlope altyd die moeilikste is,” het Sandes gesê.
“Daarom dink ek dat dié wedloop baie uitdagend en uitmergelend sal wees. Tog glo ek dit kan gedoen word met genoegsame voorbereiding . Dit gaan beslis opwindend wees. Ek hoor die klawerblaar-formaat wat gevolg word, skep ’n lekker wedloop-atmosfeer.”
Wat die AfricanX ook anders maak as die wedlope waaraan Sandes gewoonlik deelneem, is dat dit in spanverband is. Twee atlete hardloop saam.
“Dié faktor dra by tot die opwinding. Spanne bring ’n nuwe dimensie in die wedloop,” het Sandes gesê. “As jou spanmaat sukkel, voel jy dalk sterk – en andersom. Die atlete wat dus die beste kan saamwerk, sal die suksesvolste wees.”
Sandes se spanmaat is Cas van Aarde. Hulle het nog nooit saam aan ’n wedloop deelgeneem nie, maar volgens Sandes is dit nie ’n probleem nie. “Ons het vanjaar al baie saam geoefen. Ons ken dus mekaar se sterk en swak punte.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24