Lance voorgekeer op Kaapstad-lughawe
2010-03-09 10:31
Kaapstad – Die sewemalige kampioen van die Tour de France-fietstoer, Lance Armstrong, se eerste besoek aan Kaapstad het weens burokratiese rompslomp op ’n suur noot begin.
Maandagaand omstreeks 21:00 het Armstrong op Twitter laat weet dat hy by Kaapstad se internasionale lughawe geland het, maar toegang geweier is omdat sy paspoort vol is.
Armstrong is deur die JAG-stigting na Suid-Afrika genooi en neem Sondag aan die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer deel.
“Wel, ek het in Kaapstad geland maar is toegang geweier omdat my paspoort vol is en daar nie plek vir nog ‘n stempel is nie. So…nou sit ek,” het hy getweet.
‘n Tyd later het Armstrong getweet dat hy uiteindelik toegelaat is om die land binne te kom.
“Ek is uiteindelik in SA. Nie die vriendelikste verwelkoming wat ek nog ontvang het nie, maar ons het al almal met immigrasie beamptes te doen gekry.”
Siobhan McCarthy, hoof direkteur van kommunikasie by binnelandse sake, het gesê mense wat na Suid-Afrika reis moet ten minste twee skoon bladsye in hul paspoort hê om die land binne te kom.
Nadat McCarthy gevra is oor wat sou gebeur as die person nié aan die vereiste voldoen nie, het sy gesê die persoon sal toegang tot die land geweier word.
Sy kon nie kommentaar lewer oor Armstrong se geval nie en het gesê die prosedure vir bekendes wat SA besoek mag anders wees.
Deelnemers aan die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer kan uitsien na koeler weer as wat onlangs in die Kaap ervaar is, maar die kwik sal Sondag steeds tot ten minste 28 grade styg.
- Sport24