Lance Armstrong pak driekamp
2010-11-22 13:00
Wellington - Die sewemalige Tour de France-wenner Lance Armstrong gaan in Januarie aanstaande jaar aan 'n driekamp-toernooi in Nieu-Seeland deelneem.
Organiseerders van die Blue Lake Multisport-fees in Rotorua op Nieu-Seeland se Noord-eiland, het Maandag bevestig dat Armstrong 'n deelnemer vir die fees se driekamp is.
Die driekamp vind op 29 Januarie plaas en bestaan uit 750 m swem, 16 km fietsry en 5.5 km draf.
Armstrong was op 16-jarige ouderdom reeds 'n professionele driekamp-atleet én 'n nasionale kampioen in 1989 en 1990 voor hy begin het om net op fietsry te konsentreer.
Hy het vroeër vanjaar aangedui dat die Tour Down Under-fietstoer in Australië, vanaf 16-23 Januarie, sy laaste professionele fietstoer buite Amerika sal wees.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- SAPA