Armstrong waarskynlik lewenslank geskors
2012-08-24 08:40
Los Angeles – Lance Armstrong gaan deur die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (USADA) geskors word nadat die sewemalige Tour de France-kampioen bekendgemaak het dat hy nie die opkikker-aanklagte teen hom gaan beveg nie.
Die 40-jarige het Donderdagaand onthul dat hy nie langer teen die bewerings dat hy verbode middels tydens sy suksesvolle loopbaan gebruik het, gaan baklei nie.
Kort na dié aankondiging het USADA gesê dit sal die fietsryer lewenslank skors vir die gebruik van verbode middels en aanbeveel dat sy sewe Tour-titels van hom weggeneem word.
Armstrong, wat volhou dat hy onskuldig is, het die aankondiging gemaak nadat 'n hof sy regsgeding teen USADA Maandag van die hand gewys het.
USADA het Armstrong in Junie vanjaar formeel aangekla en gesê dit het bewyse, insluitend inligting van voormalige spanmaats dat die Amerikaner verbode middels tussen 1999 en 2005 gebruik het.
Armstrong het die agentskap daarvan beskuldig dat dit 'n "ongrondwetlike heksejag" teen hom voer.
"Vandag slaan ek die blaadjie om," het Armstrong in 'n verklaring op sy webtuiste gesê.
"Ek sal nie meer langer die kwessies aanspreek nie. Ek sal myself toewy aan die werk waarmee ek begin het, voordat ek 'n enkele Tour de France-titel gewen het, deur mense en hul families wat deur kanker geraak word te dien."
Die 40-jarige het gesê hy is moeg vir die bakleiery en die spanning wat dit op sy persoonlike en profesionele lewe plaas.
"Daar kom 'n oomblik in elke man se lewe wanneer hy sê 'genoeg is genoeg'. Vir my het daardie tyd nou aangebreek," het Armstrong gesê.
"Dit het sy tol geëis op my familie sowel as die werk vir ons stigting en op my en dit het my gebring tot waar ek vandag is – ek is klaar met die nonsens."
USADA se uitvoerende hoof, Travis Tygart, het aan AFP gesê al Amstrong se titels wat hy vanaf 1 Augustus 1998 gewen het sal van hom weggeneem word.
In 'n geskrewe verklaring het Tygart die besluit 'n "hartseer dag" vir die sportwêreld genoem en gesê die "wen-ten-alle-koste kultuur" het nodig om te verander.
"Dit is 'n hartseer dag vir ons wat sport liefhet en vir ons sporthelde," het Tygart gesê.
Hy het bygevoeg dat Armstrong die agentskap nie amptelik van sy besluit in kennis gestel het nie en dat USADA Vrydag 'n mediakonferensie sal hou om meer inligting oor die besluit te verskaf.
Lees meer hier.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP