LJ wen eerste ronde
2011-05-08 08:30
Johannesburg – “Ek dink hierdie gaan vir my ’n spesiale jaar wees.”
Op die oog af heel beskeie, maar met ’n hart wat vir seker reeds bokspringe maak, was dít LJ van Zyl se reaksie nadat hy Vrydagaand in Doha, Katar, sy rééds-skouspelagtige Atletiekjaar 2011 voortgesit het.
Hy het by die eerste internasionale Diamantliga-byeenkoms met ’n verbysterende vaartversnelling in die pylvak hakskene gewys vir die Amerikaanse breker Bershawn Jackson – loshande verlede jaar die planeet se nommer 1 in die 400-hekkies.
Die 25-jarige boerseun van Molteno het in ’n puik 48.11 gewen, met sy 21-jarige landgenoot Cornél Fredericks tweede (48.43) en Jackson derde (48.44).
LJ sê agterna aan Sport24 : “Ek het heeldag ’n kopseer van die verskriklike hitte hier gehad. Boonop was die wind in ons wedloop nie lekker nie. Maar ek het slim gehol, want ek ken al vir Bershawn.
“Hy is altyd vinnig oor die laaste 70?meter en ek het só gehardloop dat ek genoeg petrol in die tenk oor het om hom in die pylvak te race.”
En: “Ek is so bly ’n Suid-Afrikaanse seun soos Cornél sit ons land se trotse tradisie in die 400-hekkies voort.”
Doha was Fredericks se grootste oorwinning in sý uiters belowende loopbaan – en loshande sy vinnigste tyd in die internasionale arena, nadat hy in die SA seisoen tot ’n wêreldtyd van 48.14 gevorder het.
LJ, reeds met twee ander blitstye vanjaar (47.66 en 47.73) in sy agtersak, tree nou weer op 26 Mei in Rome aan, gevolg deur Ostrava (31 Mei)... en dan New York (11 Junie), waar hy Jackson en sy Yank-landgenote, die wêreldkampioen Kerron Clement en die Olimpiese kampioen Angelo Taylor, “in hul agterplaas wil gaan wys waar Dawid die wortels gegrawe het.”
Net terloops: Jackson sê ná sy Doha-bloedneus met tipiese Yank-arrogansie: “Ek verwelkom altyd mededinging, maar ek mik na die wêreldtitel einde Augustus in Daegu, Suid-Korea.”
* Maar LJ en Cornél was nie ál Suid-Afrikaners wat in Doha spiere gebult het nie.
Die spiesgooier Robert Oosthuizen, soos LJ op sy dag ’n junior wêreldkampioen, is vooraf deur sy veel meer ervare en bekender oorsese broers tot ’n deelnemende skadu gereduseer – maar toe ontplof hy met ’n 84.38, die derde beste van sy loopbaan en goed genoeg vir ’n tweede plek ná die Tsjeg Petr Frydrych (85.32).
Maar, méér nog: Robert het afgereken met sowel die Noorse Olimpiese en wêreldkampioen Andreas Thorkildsen (vyfde met ’n 83.63) as die Finse voormalige wêreldkampioen Tero Pitkämäki (derde, 83.91).
* Internasionaal was die grootste uitblinkers in Doha die Keniane Nixon Chepseba (3:31.84 in die 1 500) en Milcah Cheiywa (9:16.44 in die vroue-hindernis); en die jong Ethiopiër Yenew Alamirew (7:27.26 in die 3 000).
Die Yank-botterbul Walter Dix het die 200, met Usain Bolt nie daar nie, in 20.06 gewen.
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg