LJ glo hy kán ná tyd
2011-03-28 08:26
Pretoria - LJ van Zyl twyfel nie ná sy haastige tyd van 44.86s in die 400 meter Saterdag op die Geelbladsye-byeenkoms in Germiston dat hy die Suid-Afrikaanse rekord van 44.59 kan verbeter nie.
“Ek het nog altyd gesê 44.59 is vinnig, maar dit is nie só vinnig nie. Dit is wanneer jy van ’n ‘lae’ 44 sekondes praat dat dinge regtig begin rof raak.
“Ek glo ek is tot ’n tyd van 44.50 in staat as ek vinniger oor die eerste 200 m kan hardloop.”
Van Zyl is die eerste Suid-Afrikaanse atleet in ’n paar jaar wat in twee verskillende nommers vir die Wêreldbyeenkoms kwalifiseer.
Op die Geelbladsye-byeenkoms in Pretoria het hy die SA rekord in die 400-hekkies na 47.66 verbeter en gekwalifiseer.
Die vraag is of Van Zyl wel in albei nommers aan die Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea gaan deelneem?
“Ek kan eerlik sê dat ek nog nie daaraan gedink het nie. Ek is baie mal oor die hekkies en ek het beslis ’n groter kans om in die hekkies goed te doen, maar ek sal eers met my afrigter, Hennie Kotzé, moet praat voordat ons ’n besluit neem.”
Van Zyl gaan nog net aan die Suid-Afrikaanse byeenkoms in Durban deelneem. Daarna gaan hy vir Europa voorberei. Hy het reeds uitnodigings ontvang om aan vier byeenkomste deel te neem.
Miskien sal hy in Parys weer aan die 400 deelneem. Volgens hom sal dit ’n eer wees om teen Jeremy Wariner van die VSA te hardloop.
Van Zyl het gesê sy grootste uitdaging is om op dreef te bly en nie siek te word nie.
“As ek nou verkoue of griep moet kry, sal dit groot skade wees.”
* Charlene Potgieter (13.39 m, driesprong), Caster Semenya (2:01.77, 800 m en 52.54, 400 m), Khotso Mokoena (8.17 m, verspring), Cheyne Rahme (5.43 m, paalspring) en Hannes Dreyer (10.18, 100 m) het ook goeie vertonings gelewer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24