‘LJ fokus op Spele’
2011-12-06 08:23
Pretoria. – LJ van Zyl, die vinnigste 400 m-hekkiesatleet in die wêreld vanjaar, sal nie aanstaande jaar aan die Geelbladsye-reeks of die Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms deelneem nie.
“Die Olimpiese Spele in Londen is net te belangrik. Ons kan nie bekostig om enige onnodige kanse te waag nie,” het Hennie Kotzé, sy afrigter, gesê.
“Ek wil hê LJ moet hoogstens aan vyf of ses wedlope voor die Spele deelneem.
“Die grootste uitdaging is om te verseker dat hy beseringsvry is wanneer die Spele begin. Om dit reg te kry, moet hy lank en deeglik voorberei.
“LJ sal heel waarskynlik die eerste keer in Mei op die Diamantliga-byeenkoms in Doha (Katar) deelneem. Alles sal daarvan afhang of ek tevrede is met hoe sy oefenprogram verloop.
“Vanjaar het ons eers drie dae voordat LJ die Suid-Afrikaanse rekord op die Geelbladsye-byeenkoms by Tukkies verbeter het, besluit hy is reg om deel te neem.”
Kotzé het reeds die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) oor hul planne ingelig en voorsien nie probleme nie.
Omdat die 400-hekkies nie deel is van die Doha-program nie, is die plan dat hy daar aan die 400 m deelneem en ’n week later in Sjanghai, China, die eerste keer aan die 400-hekkies.
Van Zyl het almal vanjaar in Germiston laat regop sit toe hy die 400 m in 44.86 s gewen het. Met dié vertoning het hy maar die vyfde Suid-Afrikaanse atleet geword wat die 400 in vinniger as 45 sekondes aflê.
Van Zyl het gesê hy wil bitter graag hê dat die Suid-Afrikaanse rekords in die 400-hekkies en die 400 albei agter sy naam pryk.
“Ek dink dit is moontlik, maar die 400-hekkies sal altyd my vernaamste doelwit bly.
“Die hoofrede waarom ek van tyd tot tyd aan die 400 deelneem, is omdat dit my in staat stel om vinniger tye in die 400-hekkies te hardloop.”
Van Zyl het gesê hy hoop hy kry die kans om Suid-Afrika weer in die 4x400-aflos op die Spele te verteenwoordig.
“Ek het reeds die Spele-program bestudeer. Dit werk perfek uit. Die 400-hekkies vind op 3, 4 en 6 Augustus plaas en die 4x400-aflos op die 9de en 10de.
“As ek aanstaande jaar net voor die Spele op dieselfde peil kan wees as waar ek vanjaar van Februarie tot Junie was, weet ek dat ek ’n goeie Spele sal hê.”
Volgens Van Zyl laat hy niks aan die noodlot oor nie.
“Ek ondergaan twee keer ’n week behandeling om seker te maak daar skort niks met my lies of dyspier nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24