LJ én Cornel in rillers vir eindronde-plek
2011-08-31 09:51
Daegu, Suid-Korea – LJ van Zyl en Cornel Fredericks het Dinsdagaand bewys Suid-Afrika het beslis van die beste hekkiesatlete toe albei hier op die Wêreld-atletiekbyeenkoms tot die eindronde van die 400-hekkies deurgedring het.
Dit is maar die tweede keer in die 25-jarige geskiedenis van die Wêreldbyeenkoms dat twee Suid-Afrikaners in dieselfde nommer tot ’n eindronde deurdring.
Die vorige keer dat dit gebeur het, was in 2001 in Edmonton, Kanada, toe Hezekiel Sepeng én Mbulaeni Mulaudzi in die 800-eindronde in aksie was.
Fredericks én Van Zyl was in riller-wedlope betrokke.
Fredericks en Angelo Taylor, die VSA se Olimpiese kampioen, het skouer aan skouer tot by die eindstreep gehardloop. Die Suid-Afrikaner het die Yank aan die einde met enkele sentimeters geklop.
Javier Culson van Paraguay het dié halfeindronde in 48.52 s gewen. Fredericks was tweede in 48.83 en Taylor derde in 48.86.
Fredericks het gesê hy het geweet die wedloop gaan hard wees. “Dit was alles of niks. Ek het geweet ek moet eerste of tweede eindig as ek tot die eindronde wil deurdring.
“Daarom het ek van die begin af hard gehardloop. Die laaste 100 m was erg. My bene het begin rebelleer, maar daar was geen manier waarop ek sou bes gee nie.
“My doelwit was van die begin af ’n plek in die eindronde.”
Daar is eintlik net een manier om Van Zyl se halfeindwedloop te beskryf: Sjoe!
Die laaste 40 m was genoeg om enige plaaslike atletiekondersteuner se bloeddruk te laat styg.
Van Zyl het begin rondkyk en ook effens stadiger gehardloop. Hy het egter die fout begaan om nie te kyk wat aan sy buitekant aangaan nie.
Aleksandr Derevyagin van Rusland het versnel en Van Zyl met elke tree veld gewen en hom so byna ingehaal. Van Zyl het net-net sy voet voor die Rus oor die eindstreep gekry.
Bershawn Jackson van die VSA het in 48.50 gewen. Van Zyl was tweede in 49.05 en Derevyagin derde in 49.07.
Van Zyl het erken dat hy ’n fout begaan het wat hom duur te staan kon kom.
“Ek het doelbewus teen die einde stadiger gehardloop, want ek wou nie dieselfde fout as in 2005 in Helsinki begaan toe ek my halfeindronde in 48.16 gewen het nie.
“Deur dit te doen, het ek onnodige energie vermors en dit het daartoe gelei dat ek in die eindronde ’n stadiger tyd gehardloop het. Ek is net bly dat ek vanaand kon deurdring.”
Dit is die eerste keer sedert 2005 dat Van Zyl op ’n Wêreldbyeenkoms-eindronde nael.
Wenda Theron se tyd van 57.06 in die 400-hekkies se halfeindronde vir vroue was nie goed vir ’n plek in die eindronde nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24