Kyk hoe lyk Caster nou!
2009-09-09 11:53
Kaapstad - Suid-Afrika se 800m-kampioen, Caster Semenya, wie se geslag bevraagteken word, het haar voorkoms verdedig en aan 'n oormaaksessie van 'n plaaslike tydskrif deelgeneem.
Semenya pryk op die voorblad van die jongste uitgawe van You.
"Ek is wie ek is en ek is trots op myself," het die 18-jarige gesê.
"Ek sal meer gereeld wil optof en rokke dra, maar ek kry nooit die geleentheid nie."
Pumza Fihlani van BBC se webwerf in Johannesburg het gesê die uitrustings wys 'n sagter sy van Semenya, wat die wêreld nog net in atletiekuitrusting gesien het.
Die uitrustings sluit in 'n swart leerbroek en 'n bloes met blinkertjies, 'n grys knielengte rok met 'n grys baadjie en 'n swart en wit skemerkelkierok met stilettos.
Die omstredenheid oor haar geslag het baie mense in Suid-Afrika en haar gesin boos gemaak.
Luisteraars van plaaslike radiostasies het ingebel om hul mening oor die "nuwe en verbeterde" Semenya te gee.
Sommige het gevoel dat sy nie "verbeter" moes word nie en ander het gedink sy lyk "wonderlik".
Semenya praat nie veel oor die herrie rondom haar geslag nie, en het gesê sy steur haar nie aan negatiewe publisiteit nie.
"Ek sien dit alles as 'n grap. Dit ontstel my nie. God het my gemaak soos ek is en ek aanvaar myself," het sy gesê.
"Ek het nog nooit my eie klere gekoop nie. My ma koop my klere, maar nou dat ek weet ek kan so lyk, wil ek meer gereeld só aantrek," het sy gesê.
– Sport24