Kwalifiseerder laat De Voest sweet
2011-02-01 07:54
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Ope-tennistoernooi het Maandagaand hier by Montecasino op ’n wennoot vir die plaaslike spelers begin toe Rik de Voest sy wedstryd in die eerste ronde teen die Italiaanse kwalifiseerder Stefano Galvani met 6-3, 5-7, 7-6 (8/6) gewen het.
Dit was ’n marathonstryd van 2 uur en 40 minute, wat De Voest eindelik met sy derde wedstrydpunt beklink het toe Galvani ’n voorarmhou teen die net geslaan het.
De Voest kon ’n groot sug van verligting slaak, want hy het die wêreld soms vir homself moeilik gemaak teen ’n vasbeslote teenstander wat eenvoudig nie wou bes gee nie.
Enige van die twee spelers kon tot aan die einde nog hierdie wedstryd wen, maar De Voest, wat op nommer 180 op die wêreldranglys byna 100 plekke beter daaraan toe is as die Italianer (nommer 274), kon eindelik net-net sy neus eerste by die wenpaal kry.
Hy het in die sesde pot van die eerste stel deurgebreek, danksy ’n dubbelfout van Galvani, maar dié voordeel dadelik teruggegee in die sewende pot.
De Voest het egter die deurslaggewende deurbraak in die agtste pot gekry en daarna sy afslaan behou om die stel te wen.
Die tweede stel het volgens afslaan verloop tot die 12de pot, toe die Italianer deurgebreek het om sake gelykop te maak.Die beslissende stel was ’n geval van wie die meeste uithouvermoë sou hê en eindelik was dit De Voest.
In die middel van dié stel het die Italianer se handdoek – tussen potte – op ’n manier aan sy oog geraak en sy kontaklens het geskuif. Dit is dieselfde oog waaraan hy enkele jare gelede ’n kornea-operasie ondergaan het.“Ek het daarna gesukkel om behoorlik te sien, maar dit is nou maar een van daardie dinge,” het Galvani gesê.
Hy sê hy het veel swakker gespeel as in die naweek in die kwalifiserende toernooi.
“My afslaanwerk was vandag (gister) baie swak. Ek dink ons albei was baie gespanne en kon nie regtig aan die gang kom nie.” In die beslissende stel is deurbrake uitgeruil in die derde en vierde potte, en in die elfde het De Voest twee breekpunte verbrou.
Op sy tweede wedstrydpunt in die valbylpot het ’n kykweer beslis sy voorarmhou was slegs ’n millimeter oor die agterbaan.Vandag se spel begin om 12:00, met die meeste gekeurdes wat in aksie gaan wees.
Vanmiddag speel Suid-Afrika se Kevin Anderson, Izak van der Merwe, Fritz Wolmarans en Nikala Scholtz, terwyl die topgekeurde, Feliciano Lopez van Spanje, vanaand om 19:00 in aksie is teen die Kanadees Frank Dancevic.
Kaartjiepryse vir vandag se spel is R40.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24