Kvitova wen WTA-kampioenskap
2011-10-31 15:26
Istanbul – Die 21-jarige Tsjeg, Petra Kvitova, wat verras het toe sy vanjaar die Wimbledon-titel gewen het, het Sondag die WTA se jaareindkampioenskap gewen, het RSG Maandag berig.
Sy het Victoria Azarenka van Belo-Rusland (Wit-Rusland) met 7-5, 4-6 en 6-3 in die eindronde in Istanbul geklop.
Die oorwinning help haar ook om nader te beweeg na die boonste plek op die rangleer.
Kvitova, wat 2011 in die dertigste plek begin het, is nou tweede na Caroline Wozniacki van Denemarke, wat vir die tweede agtereenvolgende jaar in die boonste plek afsluit.
Sy is ook die eerste Tsjeggiese speler wat dié toernooi kon wen sedert Jana Novotna in 1997.
Vir die jongse sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– RSG