Knox-hul wen skof, maar...
2011-10-19 09:31
Riversdal – Max Knox (Ghost) en Christoph Sauser (Songo.info) het Dinsdag vergoed vir hul kaskenades van die eerste dag deur in die tweede skof van die DCM Cape Pioneer Trek-bergfietstoer vir al die gunstelinge weg te jaag.
Dié twee het eintlik ’n groot karaktertoets geslaag.
Hulle is Maandagaand met 60 minute beboet omdat Sauser in die eerste skof ’n roete-aanwyser misgekyk het.
Dít het daartoe gelei dat die Switserse jaer ’n korter afstand as die ander jaers afgelê het.
Die tydboete beteken dat Knox en Sauser glad nie meer die toer algeheel kan wen nie, want hulle is meer as 86 minute agter die voorlopers, Kevin Evans en David George (Team Nedbank 360Life).
Al wat vir Knox en Sauser oorbly, is om aansien te probeer herwin.
Die keerpunt in Dinsdag se skof het ná die derde waterpunt aangebreek toe van die jaers verwag is om die Hel binne te ry.
Knox het ’n aanval geloods en Sauser het gevolg.
Vanweë hul reuse-voorsprong het Evans en George nie daarin belanggestel om hulle te probeer inhaal nie, veral toe hulle agterkom dat die jaers van die enigste twee spanne wat steeds ’n kans gehad het om algeheel te wen meer gehardloop het as wat hulle hul fietse getrap het.
Knox en Sauser se wentyd vir die skof oor 128 km (Calitzdorp na Riversdal) was 5 uur 23 minute en 35 sekondes.
Evans en George was tweede in 5:30:49.
Jacques Janse van Rensburg en Adrien Niyonshuti (MTN-Qhubeka) het in 5:48:50 derde geëindig.
Ben-Melt Swanepoel en Nico Bell was vierde (wat sonder ’n spanborg deelneem) – ook in 5:48:50.
Evans en George is nou algeheel 23 minute voor Swanepoel en Bell.
Evans het in die tweede skof vir groot snaaksigheid gesorg. In ’n stadium moes die jaers deur ’n rivier jaag.
Al die jaers het wyslik besluit om af te klim en met hul fietse bo hul koppe deur te stap.
Nie Evans nie.
Hy het kamikaze-styl die rivier binnegejaag, vir ’n oomblik of twee het hy daarin geslaag om regop op sy fiets te bly, maar toe het hy heeltemal onder water verdwyn. ’n Sopnat Evans moes toe ook maar ewe bedees deurstap.
Katot Meyer, die roete-beplanner, kan bly wees hy was nie by die eindpunt nie, want sy ore sou getuit het as hy moes hoor wat die jaers van sy roete gedink het.
Hy is onder meer die nuwe “Dr Evil” van Suid-Afrikaanse bergfietsry genoem, want jaers hou nou een maal nie daarvan om kilometers aaneen met hul fietse te stap nie.
Ischen Stopforth en Catherine Williamson (Bizhub) was weer die eerste vroue-span wat klaargemaak het, terwyl Erik en Ariane Kleynhans (Contego, Giant, Sludge) die tweede agtereenvolgende skof in die gemengde afdeling gewen het.
* Woensdag se skof is van hier na Albertinia en is 107 km lank.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24