Klei-koning 'onttroon'
2011-05-17 07:02
Rome. – Rafael Nadal is die eerste keer sedert 2005 nie die oorweldigende gunsteling om die Franse Ope-tennistoernooi op Roland Garros te wen nie.
Dié Spanjaard is die afgelope ses jaar die onbetwiste koning van kleibaan-tennis, maar vanjaar staan ’n Serwiër vierkant in sy pad.
Novak Djokovic het Sondag met sy sege van 6-4, 6-4 oor Nadal in die eindstryd van die Meesterstoernooi hier sy 37ste agtereenvolgende oorwinning van 2011 behaal en niemand kon sedert die begin van die jaar daarin slaag om dié Serwiër te stuit nie.
Djokovic is net 405 punte agter Nadal op die wêreldranglys en as hy die eindstryd van die Franse Ope haal wat Sondag begin, sal hy die eerste keer die voorste speler ter wêreld wees.
Djokovic glo steeds nie hy is die beste speler op kleibane nie.
“Nadal is die koning van klei en hy is die beste speler ooit op dié oppervlak,” het Djokovic, die Australiese Ope-kampioen, gesê.
“Ek het hom nou twee keer die afgelope agt dae geklop. Dis ongelooflik. Ek het nou heelwat selfvertroue met die oog op die Franse Ope. Maar ek het nog net ’n paar toernooie gewen en Nadal is die laaste paar jaar die oorheersende speler op dié oppervlak.”
Nadal, die vyfmalige wenner op Roland Garros, kon vanjaar nog nie ’n antwoord vind op Djokovic se vrae nie.
Die wêreld se voorste speler het reeds twee titels afgestaan en die groot vraag is nou of Djokovic hom as Franse Ope-kampioen gaan onttroon
“Ek het alles gegee in elke wedstryd teen hom. Ek kon nie meer doen nie,” het Nadal gesê.
“Ek probeer baie hard en ek speel goed, maar daar is ’n speler wat beter as ek vaar.”
Maria Sharapova het Sondag die belangrikste kleibaan-titel van haar loopbaan gewen toe sy in die vroue-enkelspel baas was.
Die Rus het Samantha Stosur van Australië met 6-2, 6-4 in die eindstryd geklop nadat sy vroeër in die week ook met die nr.1-speler ter wêreld, Caroline Wozniacki, afgereken het.
Sharapova (7de) wat Stosur op die ranglys verbygesteek het, het nou al agt haar wedstryde teen Stosur gewen.
Die Franse Ope is die enigste Grand Slam-toernooi wat Sharapova nog nie kon wen nie. Die eerste keer in jare word haar naam nou saam met die gunstelinge genoem om dié trofee op 4 Junie omhoog te hou.
“Ek probeer nie om myself af te skryf nie. Al wat ek sê, is dat dit nie my werk is om te voorspel of kritiek uiit te deel nie. Dit is die werk van die media. My werk is om elke toernooi waarin ek speel, te probeer wen,” het Sharapova ná haar sege aan AFP gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- AFP