Khotso vra geen wind
2011-06-08 08:02
Pretoria - As Khotso Mokoena, die Suid-Afrikaanse verspring-kampioen, Donderdagaand voor sy deelname aan die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë één wens mag hê wat waar word, sal dit beslis wees dat die wind nie moet waai nie.
Suiwer uit ’n statistiek-oogpunt kan daar aangevoer word dat die wind Mokoena reeds by twee geleenthede daarvan “beroof” het om vir die Wêreld-atletiekbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea, in Augustus te kwalifiseer.
Op die Suid-Afrikaanse byeenkoms in Durban het hy met ’n sprong van 8.29 m gewen, maar die wind van agter was te sterk. Die afgelope naweek in Eugene, VSA, het Mokoena 8.31 m gespring, maar wéér was die wind te sterk.
Wat die amptelike statistieke betref, is Mokoena se beste poging tot dusver 8.19 m. Dis een sentimeter kort van die kwalifiserende A-vereiste vir die Wêreld-byeenkoms.
Die vraag is egter nie óf Mokoena, medaljewenner op die Olimpiese Spele en Wêreldbyeenkoms, kan kwalifiseer nie, maar wanneer hy gaan kwalifiseer.
In Eugene was Mokoena die bestendigheid vanself. Hy het ses keer verder as 8 m gespring.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24