Khotso is koning
2010-07-30 08:13
Nairobi - Khotso Mokoena het Donderdag hier op die Afrika-atletiekbyeenkoms met sy sege in die verspring gewys hy het nie verleer hoe om te wen nie.
Die ander groot Suid-Afrikaanse hoogtepunt was Simon Magakwe se tyd van 10.14 waarmee hy die bronsmedalje in die 100 gewen het.
Dit is die sewende vinnigste tyd tot nog toe deur ’n Suid-Afrikaanse naelloper en die eerste keer in meer as vyf jaar dat ’n plaaslike atleet vinniger as 10.20 hardloop.
Victor Hogan het ’n bronsmedalje in die diskusgooi vir mans met ’n gooi van 58.11 gewen.
Daar was ook slegte nuus. Mbulaeni Mulaudzi het hom op doktersadvies aan die halfeindronde van die 800 onttrek. As hy sou hardloop, sou hy volgens die spanbestuurder beslis sy dyspier geskeur het.
Mokoena bly maar net een vir die groot oomblik. Gister was die eerste keer in amper drie maande dat hy weer aan ’n byeenkoms deelgeneem het.
Senegal se Ndiss Badji het vroeg die voortou geneem met ’n sprong van 8.10. Mokoena het met sy vierde sprong perfek vasgetrap en die maatband tot 8.23 laat rek.
Hy het nie weer daarna gespring nie, omdat hy steeds effens las van ’n besering het en nie onnodige kanse wou waag nie.
“Ek het al amper vergeet hoe lekker dit is om deel te neem,” het Mokoena agterna gespot.
Volgens hom sou daardie wensprong van hom nog verder gewees het as dit nie was vir die feit dat die wind reg van voor gewaai het nie.
“Maar ek kla nie. Ek weet nou dat ek reg vir die res van die seisoen is. My hoofdoelwitte is om goed op die Wêreldbeker-byeenkoms en die Statebondspele te doen.”
Stanley Gabagbeke van Nigerië was derde met ’n sprong van 8.06.
Die Potch-blits Magakwe was vies vir homself.
“Ek kon waarskynlik nog vinniger gehardloop as ek nie so sleg weggespring het nie, maar dié is net die begin. Ek weet nou ek kan 10.00 hardloop.”
Ben Youssef Meite van die Ivoorkus het die 100 in 10.08 gewen en Zakari Aziz van Ghana was tweede in 10.12.
Windy Jonas se vertoning in die 800-halfeindronde verdien vermelding. Toe die klok vir die laaste ronde lui, was hy in die heel laaste plek. Daar kon ook gesien word hoe hy effens struikel.
Gelukkig het hy vinnig sy balans herwin om vierde in sy uitdun in ’n tyd van 1:48.56 te eindig.
- Ander Suid-Afrikaners wat tot eindrondes deurgedring het, is: LJ van Zyl (2de vinnigste in 400-hekkies – 49.73), Cornel Fredericks (3de vinnigste in die 400-hekkies – 49.82), Ofentse Mogawane (7de vinnigste in 400 – 46.65), SA mans-aflosspan (vinnigste 4x100 – 39.30), René Kalmer (10de vinnigste in 1500 – 4:18.32) en Estie Wittstock (5de vinnigste in 400 – 52.95).
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24