Kevin se heup kelder SA Davisbeker-droom
2011-09-19 07:00
Potchefstroom – Wat ’n antiklimaks.
Suid-Afrika se hoop om vir die Wêreldgroep van die Davisbeker-tennisreeks te kwalifiseer, is in die naweek verydel deur ’n heupbesering wat sy voorste speler, Kevin Anderson, die laaste twee dae uit aksie gehou het.
Sonder Anderson was die Suid-Afrikaners soos ’n bokser wat met sy hande agter sy rug vasgebind deur die toue moes klim.
Kroasië het Saterdag se dubbelspel gewen en gisteroggend het sy nr.1-speler, Marin Cilic, die bok platgetrek toe hy Rik de Voest in 2 uur en 3 minute met 6-4, 6-2, 6-4 geklop het om die Oos-Europeërs in ’n onaanvegbare posisie van 3-1 te plaas.
Anderson, wat Vrydag in die eerste wedstryd met Ivan Dodig klaargespeel het, het in daardie sege ’n heupbesering opgedoen en kon daarna nie weer sy kant bring nie.
Die Suid-Afrikaners is só afhanklik van hom dat dit hulle weerloos gelaat het.
Cilic en Dodig het De Voest en Raven Klaasen met 6-2, 6-4, 3-6, 6-1 geklop in die dubbelspel.
En toe dit gisteroggend duidelik word Anderson sou nie vir Cilic kon pak nie, was die einde onvermydelik.
In die laaste wedstryd het Nikola Mektic Klaasen met 7-6 (7/2), 6-1 geklop om die Kroate met 4-1 te laat wen.
Daar is met groot verwagting uitgesien na ’n kragmeting tussen die twee nr.1-spelers.
In Suid-Afrika is wedstryde tussen twee spelers wat tussen die voorste 35 ter wêreld op die ranglys is, ongehoord.
Die grootste skare was baie teleurgesteld dat dit nie ’n werklikheid geword het nie.
De Voest het, soos altyd, sy bes gelewer, maar hy was net nie opgewasse teen ’n speler meer as 100 plekke beter daaraan toe as hy op die wêreldranglys nie.
Hy het boonop senuagtig begin en sy eerste afslaanpot met stroop verloor.
Cilic was nooit in die moeilikheid op sy eie afslaan nie en het dit slegs een keer, in die sesde pot van die derde stel, verloor, maar dadelik teruggebreek.
De Voest het ook sy afslaan in die openingspot van die tweede stel verloor en hoewel hy daarna sy man gestaan het, was die skade reeds aangerig.
“Hy het die belangrike punte goed gespeel en ek kon nie regtig indruk op hom maak nie,” het De Voest gesê.
“Dit was baie teleurstellend dat Kevin nie kon speel nie, want elke land het ’n top-speler soos hy nodig.
“Die omstandighede waarin dit gebeur het, maak hierdie nederlaag moeilik om te sluk.”
De Voest het gesê die ondersteuning in Potch was baie bemoedigend.
“Ek het baie gehou van dit wat die mense geskree het as aanmoediging, veral die ou wat gesê het: maak hom seer, pappa-beer.”
Ongelukkig kon die Suid-Afrikaners dit nie doen nie en is daar die derde jaar in ’n ry oor die hekkie gestruikel wat hulle by die elite van wêreldtennis kon laat aansluit.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg