Kevin laat SA vlag wapper
2011-08-31 07:02
Johannesburg – Die gebore Johannesburger Kevin Anderson het sy aanslag in die Amerikaanse Ope op bulderende wyse begin toe hy die Japannees Go Soeda Dinsdagoggend in die eerste ronde met 6-1, 6-3, 6-0 vermorsel het.
Anderson het g’n genade betoon nie en Soeda van die baan af gevee in ’n wedstryd waarin hy nege kishoue geslaan en 83% van die punte op sy eie afslaan gewen het.
Dié 24-jarige Suid-Afrikaner is 34ste op die wêreldranglys, teenoor die 123ste posisie van Soeda. Anderson was die groot gunsteling teen ’n man wat hom nog nooit kon klop nie en het net ’n uur en 38 minute nodig gehad om die vertroue in hom te beloon.
Anderson se volgende wedstryd sal heelwat taaier wees, teen die Fransman Michael Llodra.
)?Die vyfmalige kampioen Roger Federer is ook veilig oor die eerste hekkie nadat hy die Colombiaan Santiago Giraldo met 6-4, 6-3, 6-2 uitgeskakel het.
Anders as wat die telling aandui, het dié wedstryd ’n paar benoude oomblikke ingesluit. Federer was met 5-1 voor in die eerste stel, maar het albei sy volgende afslaanpotte verloor en moes diep delf om die Colombiaan terug onder die duim te kry.
Ná twee stelle het die Switser meer ongedwonge foute begaan as wenhoue aangeteken, en het dit ’n goeie derde stel geverg om die kragmeting met ’n positiewe ratio van 36 wenhoue teenoor 35 ongedwonge foute af te sluit.
“(My spel) was redelik op en af terwyl ek gewoond geraak het aan die toestande,” het Federer volgens die Ope se amptelike webtuiste erken. “Hy het goed gedoen in sy eerste wedstryd op dié baan, en dit was ’n plesier om teen hom te speel.”
Die Yank Mardy Fish, wat in sy laaste vier toernooie drie eindstryde gehaal het, het net vyf potte verloor in sy wedstryd teen die Duitser Tobias Kamke. Fish se landgenoot Venus Williams het oorgeloop van selfvertroue in haar sege van 6-4, 6-3 oor Vesna Dolonts.
Die grootste opskudding is gelewer deur die ongekeurde Alexandra Dulgheru van Roemenië. Sy het die Wimbledon-kampioen, Petra Kvitova, huis toe gestuur met 7-6 (7/3), 6-3.
Gisteraand het Jo-Wilfried Tsonga sy aanslag ook op ’n hoë noot begin deur Yen-Hsun Lu van Taiwan met 6-4, 6-4, 6-4 uit te skakel.
David Ferrer van Spanje, wat vyfde gekeur is, het die Rus Igor Andreev met 2-6, 6-3, 6-0, 6-4 geklop.
In die vroue-afdeling het die eerste gekeurde, Caroline Wozniacki van Denemarke, tot die tweede ronde deurgedring ná haar sege van 6-3, 6-1 oor Nuria Llagostera Vives van Spanje, Victoria Azarenka, Flavia Pennetta en Sabine Lisicki het ook hul wedstryde gewen.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- AFP