Kevin én Izak se kishou vir SA
2011-02-02 07:24
Johannesburg - Dit het soms broekskeur gegaan, maar Suid-Afrika se voorste tennisspeler, Kevin Anderson, het Dinsdagaand hier by Montecasino oor die eerste hekkie in die Suid-Afrikaanse Ope gekom.
Anderson, vierde gekeur, het die Switser Stephane Bohli met 4-6, 6-4, 6-2 in 2 uur en 5 minute uitgeskakel in ’n wedstryd wat op 2-0 in die beslissende stel deur reën onderbreek is.
Izak van der Merwe het ook sy stem dik gemaak toe hy die tweede ronde bereik het deur verlede jaar se naaswenner, Stephane Robert van Frankryk, met 6-3, 6-2 sy tasse laat pak het.
“Ek het nogal wys geword uit daardie nederlaag en geweet hoe om teen hom te speel.
My plan was om aggressief te wees en soveel moontlik by die net uit te kom,” sê Van der Merwe, wat vyf kishoue geslaan, maar ook sewe dubbelfoute begaan het.
’n Deurbraak in die vierde pot was genoeg om die eerste stel aan hom te besorg, terwyl hy in die vyfde en sewende potte van die tweede stel die Fransman se afslaan afgerokkel het.
Vir Robert was dit dié keer nie die sprokie wat hy verlede jaar beleef het nie. In die tweede ronde kom die langbeen Stellenbosser weer teen iemand te staan met wie hy ’n appeltjie te skil het.
Dit is die Rastaman Dustin Brown, wat nou sy Jamaikaanse identiteit verruil het om as ’n Duitser te speel.
Sy ma is Duits, wat hom toelaat om as ’n Duitser te speel.
Brown, wat in verlede jaar se eindstryd van die Soweto-ope met Van der Merwe afgereken het, het Dinsdag in slegs 54 minute met die vyfde gekeurde, Florent Serra van Frankryk, klaargespeel.
Die telling was 6-4, 6-4. Nog ’n speler wie se afslaanwerk die sleutel tot sy welslae is, is die 20-jarige Kanadese kwalifiseerder Milos Raonic.
Hy het 14 kishoue in sy sege van 6-3, 6-3 oor die tweede gekeurde, Yen-Hsun Lu van Taiwan, gemoker.
Dié stryd het ’n uur en 15 minute geduur.Raonic, wat ’n nr.16-skoen dra, erken sy welslae in die Australiese Ope, waar hy die ronde van 16 gehaal het, het hom baie selfvertroue gegee.
Hy het onderweg daarheen ’n sege oor die Rus Mikael Youzhny behaal. “Die toestande hier, veral die lugdruk, is nie maklik nie. Jy kan nie sommer net vrye teuels gee en die bal moker nie.
Jy moet beheersde houe speel,” het Raonic gesê. Lu is nr. 35 ter wêreld en Raonic slegs nr. 168.
Vir die Suid-Afrikaanse kwalifiseerder Nikala Scholtz het die einde van die pad aangebreek. Hy het hom met 6-4, 7-5 teen die Duitser Denis Gremelmayr vasgeloop.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24sport op Twitter.
- Sport24