Kate mik na top-20 vir Londen-Spele
2011-12-21 10:06
Bloemfontein. – Kate Roberts moet einde Mei steeds een van die voorste 20 driekamp-atlete op die Olimpiese ranglys wees om weer Olimpiese Spele toe te gaan.
Dit lyk in dié stadium, met Roberts 15de op die wêreldlys, of sy die enigste Suid-Afrikaanse vrou gaan wees tussen die 55 deelnemers wat op 4 Augustus in Londen se Hyde Park gaan aantree.
Sy moet nou net seker maak sy sak nie intussen terug nie, het Roberts uit Australië laat weet.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het Roberts (28), wat al die 7de plek op die wêreldranglys beklee het, laat verstaan dat die prestasie as Afrika-kampioen nie vir hom genoeg gewig dra om vir die Spele te kwalifiseer nie.
Die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms word einde Maart in Mauritius gehou.
Roberts gaan ook aan drie van die Wêreldbyeenkomste – in Sydney, San Diego en Madrid – deelneem.
“Die Olimpiese ranglys word net daarna deur die Internasionale Driekampvereniging (ITU) gefinaliseer – en as alles volgens plan verloop, sal ek in die top-20 wees en luidens Saskok weer kwalifiseer.”
Roberts was in 2008 in Beijing, nadat sy op ’n kritieke tydstip teëspoed ervaar het, 34ste van die 50 deelnemers. Sy het gesukkel om haar hardloopskoene aan te kry toe sy van haar fiets afgeklim het – wat haar duur te staan gekom het. Sy het eindelik in 2:05.33 klaargemaak.
Die wenner in 1:58.27, Emma Snowsill van Australië, is tans 17de op die Olimpiese ranglys.
Die Kiwi Andrea Hewitt is nr. 1, gevolg deur Helen Jenkings van Brittanje en Aussie Emma Moffat, wat ook derde in Beijing was.
- Roberts het Kersfees saam met die familie in Bloemfontein intussen prysgegee om haar op die Spele te begin toespits. Sy oefen in Canberra, wat reeds die laaste klompie jaar haar oefenbasis aan die begin van die seisoen is.
“Ek ag dit as ’n klein opoffering om te maak om sodoende die wedloop van my lewe op die Spele te hê.
“Ek is bereid om ’n Kersfees saam met my familie mis te loop in ruil vir ’n goeie vertoning op 4 Augustus met almal van hulle daar om my te ondersteun!”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24