Kan dié SA trio in China naam maak?
2011-08-15 07:45
Pretoria – Daar word al lankal voorspel dat André Olivier (800 m), Willie de Beer (400 m) en PC Beneke (400-hekkies) die talent het om op internasionale atletiekbyeenkomste te presteer, maar weens beserings het dit nog nie gebeur nie.
Net dalk van vandeesweek op die Wêreld-studentespele in Sjenzen, China, kan dinge begin verander.
Olivier, ’n voormalige bronsmedaljewenner op die Junior Wêreldbyeenkoms, het die afgelope maand in Europa deelgeneem.
Hy vertel trots dat hy vyf keer deelgeneem en vyf keer gewen het.
“My tye was niks watwonders nie, want die weer was maar goor. Dit het daartoe gelei dat die wedlope in taktiese affêres ontaard het.
“Miskien is dit ’n bedekte seën, want as dinge vir my reg op die Studente-byeenkoms uitwerk, sal ek drie 800-wedlope in drie dae hardloop.
“Ek dink nie die goue medalje sal noodwendig deur die vinnigste atleet gewen word nie. Miskien word dit gewen deur die atleet wat op sy voete kan dink.”
Op die 2009-Spele in Belgrado is die 800 m in 1:48.02 gewen. Olivier se beste tyd vanjaar is 1:46.84. Sy beste tyd in sy loopbaan is 1:45.41.
De Beer het vroeër vanjaar sy tyd in die 400m na 45.68sek. verbeter.
Sy vertoning was half en half ’n verrassing, veral omdat hy nie die vorige twee jaar deelgeneem het nie.
“Dit is my eie skuld dat ek so lank nie deelgeneem het nie. Ek het dom dinge gedoen wat daartoe gelei het dat ek my liggaam heeltemal afgebreek het.
“Dit het my duur te staan gekom. Ek moes eers soos ’n stout kind ’n slag eers in die hoekie gaan sit en besin oor wat ek verkeerd gedoen het voordat ek weer kon begin deelneem.
“Ek is baie dank aan Hennie Kriel, my afrigter, verskuldig wat my gehelp het om weer mededingende tye te hardloop.”
De Beer wou nie voorspellings oor tye waag nie.
“Ek het doelwitte vir myself gestel, maar ek wil nie daaroor praat nie, want dan gaan ek net onnodige druk op myself plaas. Die belangrikste vir my is om in Sjenzen tot die eindronde deur te dring.”
In 2009 was die wentyd in die 400m 45.68 sekondes.
Beneke het op die Junior Wêreldbyeenkoms in 2008 vyfde in die eindronde van die 400-hekkies geëindig.
Sedertdien is hy erg deur beserings opgekeil.
Volgens Beneke is sy probleme iets van die verlede.
“Ek het die laaste paar weke goed geoefen en ek kan voel ek is sterker en vinniger.
“My doelwit is om tot die eindronde deur te dring. As ek dit regkry, gaan ek my alles gee om ’n medalje te wen.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24