Justine skuur skouers met Bolt en Blake
2012-01-18 09:00
Justine Palframan, een van Suid-Afrika se belowendste 400 meter-atlete, oefen vandeesweek saam met Yohan Blake (100-wêreldkampioen) en Usain Bolt (200-wêreldkampioen) in Jamaika.
“Dit is ’n ongelooflike ervaring om op dieselfde baan saam met Usain Bolt en Yohan Blake te oefen.
“Jy kan nie anders as om verwonderd te wees wanneer jy dié twee van naby voluit sien hardloop nie.”
Volgens Palframan kon sy darem al ’n paar woorde met Blake praat. Hy is glo baie aangenaam.
“Ek hoop ek gaan die kans kry om ook ’n bietjie met Bolt te gesels.
“Ongelukkig was ek reeds aan die oefen toe hy opgedaag het.”
Palframan het gesê Jason Dawson is die afrigter wat haar help.
Glen Mills, Bolt se afrigter, gaan haar later dié week bystaan.
“In die eerste oefening het hulle my meestal gehelp om my arms reg te gebruik, terwyl ek hardloop.
“Ek het nie werklik besef hoe groot rol jou arms in ’n naelloop kan speel nie. My treelengte het klaar verbeter.”
’n Besliste hoogtepunt vir Palframan was haar besoek aan die Bob Marley-museum.
“Die huis waarin hy doodgeskiet is, is in ’n museum omskep. Ek kon die koeëlgate sien in die kamer waar die moord plaasgevind het.”
Steven, haar pa en ook afrigter, het gesê Justine keer aanstaande week weer terug na Suid-Afrika.
“Dit is vir ons belangrik dat Justine soveel moontlik in die kort tydjie probeer leer.
“Ek het vir haar gesê om oopkop te wees en nie te skroom om vrae te vra nie, want dit is nie aldag dat jy die kans kry om saam met die bestes in die wêreld te oefen nie.
“Sy gaan Saterdag die kans kry om teen van Jamaika se voorste vroue-naellopers in die 400 en dalk die 200 deel te neem,” aldus haar afrigter.
Die 18-jarige Palframan het verlede jaar matriek geskryf. Haar hoofdoelwit is om vir die Junior Wêreldbyeenkoms te kwalifiseer.
In 2009 het sy vierde in die 400-eindronde op die Jeugwêreldbyeenkoms geëindig.
Volgens haar pa sal sy vanjaar hoofsaaklik aan die 400 m deelneem.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24