Junior verras in Burger-fietstoer
2009-11-30 07:38
Eunice Visagie
Paarl - Die Burger-fietstoer het gister ’n nuwe held opgelewer toe die 19-jarige Paul van Sweel in dié wedren oor 97 km alleen én eerste oor die wenstreep gejaag het.
Van Sweel, een van die belowendste junior jaers in die land, het vriend en vyand verras met sy vertoning by Nelson’s Creek deur van die voorste jaers in die land ore aan te sit. Hy het in 2 uur, 28 minute en 22 sekondes gewen.
Nolan Hoffman (Neotel) en Nic White (Medscheme) was onderskeidelik tweede en derde.
“Ek wou dié wedren vandag wen en het gekom met die sege in my gedagtes,” het Van Sweel oor sy eerste plek gesê.
“Dit beteken baie vir my maar nie net vir my nie, maar ook vir my familie en vriende. Ek het hard gewerk hiervoor.”
Volgens Van Sweel was dit ’n baie aanvallende wedren.
“Daar was sommer aan die begin al baie aanvalle en aan die bopunt van Botmaskloof het ’n paar van ons weggekom van die bondel. ’n Groepie het hulle later by ons aangesluit en steeds was daar baie aggressiewe jaagwerk. Met 30 km oor het ek besluit om ’n kans te waag. En tot op die einde op my eie gery.”
Van Sweel is bekend vir sy vermoë in tydtoetse en dit het beslis handig te pas gekom.
Arran Brown (Medscheme) het met sy vierde plek in die wedren die Alpha Pharm-reeks gewen.
“Natuurlik wou ons vandag die wedren wen, maar die belangrikste was om seker te maak ek wen die reeks. En ons het dit reggekry. Om dié reeks te wen, wys jy is ’n jaer wat konsekwent is,” het Brown gesê.
Jennie Stenerhag (2:37.51) het die derde agtereenvolgende jaar dié fietstoer gewen. Robyn de Groot en Anriëtte Schoeman was onderskeidelik tweede en derde.
Met dié sege het Stenerhag haar algehele oorwinning in die Alpha Pharm-reeks verseker. Dié Sweed, wat in Stellenbosch bly, het vanjaar 20 wedrenne gewen en volgens Stenerhag hoop sy vir nog ’n groter jaar in 2010.
Johnny Kritzinger het die tweede jaar agtereenvolgens die bergfietsren gewen. Erik Kleinhans was tweede en Dominic Calitz derde. Kritzinger het vroeër vanjaar Die Burger se Bergfiets-uitdaagbyeenkoms gewen.
- Die Burger