Junior troef Khotso-rekord
2010-07-13 09:00
Pretoria. – Luvo Manyonga het die naweek in Bottrop, Duitsland, vir ’n groot hoogtepunt gesorg toe hy Khotso Mokoena se Suid-Afrikaanse junior verspring-rekord van 8.09 m na 8.19 m verbeter het.
Met die vertoning het die 18-jarige SA junior kampioen gewys dat hy ’n realistiese kans het om aanstaande week op die Wêreldbyeenkoms vir Juniors in Kanada ’n medalje te wen.
Supanara Sukhasvasti (8.04) van Thailand is die enigste ander junior atleet wat vanjaar al verder as 8?m gespring het.
Mokoena, Suid-Afrika se silwermedalje-wenner op die Olimpiese Spele en Wêreldbyeenkoms, is erg opgewonde oor die jong Manyonga se vertoning.
“Ek het nog altyd geweet as daar één atleet is wat my junior rekord gaan verbeter, sal dit hy wees. Hy het ongelooflike talent en is honger om te presteer. Ek sal seker nou in my pasoppens moet wees, want as ek droogmaak, gaan Luvo my klop.”
Nog net 14 senior atlete het vanjaar 8.19 m en verder gespring. Mokoena se beste afstand in 2010 is maar 8.15. Francois Fouche (8.21) en Mokoena (8.50) is die enigste SA seniors wat al verder as Manyonga gespring het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24