Jong spies-breker gereed vir nuwe atletiekjaar
2011-01-09 11:27
Sunette Viljoen het die bal aan die rol gesit... en nou wil Robert Oosthuizen vanjaar sáám met haar spiere bult op die wêreld se spiesgooi-podiums.
Dié boorling van Malmesbury, wat oor twee weke 24 word, het herstel van die ernstige liesbesering wat hy in April verlede jaar in Durban tydens die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe opgedoen het.
Dié besering het hom vir die res van Atletiekjaar 2010 op die kantlyn gehou. Al het hy met ’n vroeë 82.96 vóór die besering maklik vir die Statebondspele in Indië gekwalifiseer –en was hy daarmee loshande gunsteling om sy eerste Statebondstitel te wen –kon hy nie gaan nie, nadat drie skroewe tydens ’n operasie in sy regterlies gesit is.
Dié besering het hom met sy vyfde gooi in Durban getreiter –en hy is toe met “net” ’n silwermedalje uit Durban weg, nadat Hardus Pienaar hom met sy laaste gooi verbygesteek het.
“Ek was ses weke ná die SA’s op krukke, waarna ek nóg vier weke daarna net kon rondloop en nie eens daaraan dink om aan ’n spies te vat nie,” sê dié klong van Pa Johan, wat self op sy dag SA spiesgooi-kampioen was en vir Robert afrig.
“Ja, dit wás frustrerend, maar aan die ander kant was dit ook lekker om ’n slag ’n bietjie uit te rus en weer lus te raak vir die ding.
“Ek het in Augustus weer rêrig begin oefen –en vandag is ek 100%.”
Oor 2011: “Ek is weer vuur en vlam –en my grootste ideaal is om vanjaar rondom my beste, ’n 86.80 in 2008, te gooi. Ek hoop om bestendig in daardie omgewing te gooi, sodat ek in die internasionale arena deurentyd mededingend kan bly.”
En: “So tussendeur sal ek ook hoop op ’n flaaier –daai dag wanneer alles reg verloop en ek ’n rêrige grote uithaal.”
Definieer grote? “Enige top-spiesgooier se droom is maar 90meter.”
(Dít is, terloops, iets wat net die huidige Olimpiese- en wêreldkampioen, die Noor Andreas Thorkildsen, verlede jaar met ’n 90.37 reggekry het).
Die wêreldkampioenskappe in Daegu sal sy derde (senior) wêreldkampioenskappe wees. Op sy eerste, as 20-jarige melkbaard in 2007 in Osaka, Japan, was hy sesde in die eindstryd. By sy tweede, in 2009 in Berlyn, het ’n (ander) beenbesering hom gekniehalter en kon hy nie die eindronde haal nie.
Robert het egter in 2006 by die junior (o. 20-) wêreldkampioenskappe in Beijing die eerste tekens van GOM (groot-oomblik-mentaliteit) gewys, toe hy die junior wêreldtitel met amper ’n yslike 6meter voor sy naaste teenstander gewen het.
* SA spiesgooi is, met Robert se terugkeer, in dié belowende posisie dat hy vanjaar met víérwêreldklas-atlete in dié item spog.
Hardus Pienaar (83.17) sowel as die NWU-Pukke Viljoen (66.38) en Justine Robbeson (61.23) het al drie ook die “A-” kwalifiserende vereistes vir Daegu –onderskeidelik 82.00 en 61.00 –oortref.
- Rapport