Joel Stransky trap weer in Epic
2011-02-22 13:04
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse rugbylegende Joel Stransky het bevestig dat hy vanjaar weer aan die uitmergelende Absa Cape Epic-bergfietswedren, wat oor agt dae en 707 km strek, gaan deelneem.
Stransky, bekend vir sy skepskop wat die Springbokke gehelp het om die eindstryd van die 1995 Wêreldbeker op Ellis Park te wen, het in 22 toetse vir Suid-Afrika gespeel, 80 wedstryde vir die Sharks en vir die Westelike Provinsie het hy 22 keer uitgedraf.
Hy het ook 54 wedstryde vir die Engelse klubspan Leicester Tigers gespeel.
Stransky sal vanjaar saam met Pierre Loubser namens Absa en die Jag-stigting asook die nie-regeringsorganisasie LumoHawk vir liefdadigheid trap.
"Toe Absa my genader het om weer deel te wees van hul span vir liefdadigheid het ek dadelik ingestem. Dit is natuurlik ook 'n persoonlike uitdaging," het Stransky verduidelik.
Dié oud-Bok oefen drie tot vier keer 'n week binnenshuis en gedurende naweke doen hy twee oefensessies op die fiets as voorbereiding vir die Epic wat vanaf 27 Maart - 3 April plaasvind.
Besoek www.cape-epic.com vir meer inligting.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24