Jaer het breinskade na fietsongeluk
2011-07-08 12:19
Kaapstad – Die Colombiaanse jaer Juan Mauricio Soler wat in 'n fietsongeluk in Switserland betrokke was, toon volgens sy dokters tekens van "ernstige kognitiewe afwykings" nadat hy van 'n kunsmatige koma wakker geword het.
Die fietsongeluk het op 16 Junie tydens die Toer van Switserland plaasgevind.
'n Woordvoerder vir die St. Gallen-hospitaal in die ooste van Switserland het Vrydag gesê hoewel die 28-jarige basiese bevele kan uitvoer en sy arms en bene beweeg, hy nie in staat is om te praat nie.
Die woordvoerder, Philipp Lutz, het gesê dit wil voorkom asof die jaer van die Movistar-span breinskade opgedoen het toe hy geval en sy skedel gekraak het.
Lutz het in 'n e-pos gesê Soler sukkel om te sluk en benodig intensiewe neurologiese rehabilitasie.
Hy het bygevoeg dat Soler se toestand stabiel genoeg is om hom binnekort na 'n hospitaal in Pamplona, Spanje te vervoer.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA