Jaer eindig Tour met gebreekte gewrig
2011-07-28 11:03
Kaapstad – Die Tsjeggiese fietsjaer Roman Kreuziger was een van vele fietsryers wat tydens vanjaar se Tour de France neergeploeg het en alhoewel die Astana-jaer die Tour voltooi het, het hy Woensdag aangekondig dat hy drie weke lank met 'n gebreekte gewrig gery het.
Sy gewrig is vir ses weke in gips geplaas.
Kreuziger se Tour de France was redelik stil behalwe vir 'n aanval wat hy op die skof na Luz-Ardiden gemaak het.
Hy het gekla van rugpyn en het reeds sy gewrig tydens 'n val op die eerste skof beseer alhoewel hy nie besef het dit was gebreek nie.
"Ek het nie geweet dit was so ernstig nie en wou net die Tour klaarmaak," het Kreuziger gesê. Dié terugslag beteken dat hy nie Saterdag aan die San Sebastian Classic-fietswedren in Spanje sal deelneem nie.
Die 25-jarige het in sy eerste jaar by Astana, vir wie legendes soos Alberto Contador en Lance Armstrong voorheen gejaag het, beïndruk met die Giro del Trentino-oorwinning en 'n sesde plek by die Giro d'Italië in Mei vanjaar.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
Lees verder.
– Velonation