Jacques Freitag kry borgtog
2012-11-13 16:03
Johannesburg – Jacques Freitag, Suid-Afrika se voormalige wêreldkampioen in hoogspring, is op borgtog vrygelaat nadat hy vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is, het Beeld Dinsdag berig.
Freitag se prokureur, Fanie le Roux, het gesê sy kliënt is Maandag op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy drie dae in die tronk in Bronkhorstspruit deurgebring het vir die besit van die dwelmmiddel Cat.
Polisiebeamptes het die Cat in sy broeksak gevind nadat hulle hom van die pad afgetrek het omdat hy 'n verkeerslig verontagsaam het.
Die 30-jarige Freitag was saam met 40 ander mans, een toilet en 'n kombers wat jare laas gewas is, opgesluit, het Le Roux gesê.
"Die wêreld hou vir Jacques dop, daar is baie mense daarbuite vir wie hy iets kan beteken. Ons wil graag aan die mense wys dat hy nie 'n slegte ou is nie. Hy is iemand wat 'n fout gemaak het."
Le Roux het gesê sy kliënt is nie 'n gewoontegebruiker van dwelms nie en dat hy met slegs 'n klein hoeveelheid Cat betrap is.
Landdros Mzwakhe Skosana het Freitag beveel om drie keer 'n week by die Bronkhorstspruit-polisiestasie aan te meld terwyl hy die saak vir verdere ondersoek uitgestel het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA