Izak mik na top100-plek
2011-04-19 09:20
Kaapstad - Hy beklee sy beste posisie tot nog toe op die wêreldranglys en nou het Izak van der Merwe sy oog op ’n plek tussen die top100-tennisspelers in die wêreld.
Van der Merwe het Sondag die Soweto-ope gewen en is nou 134ste op die wêreldranglys.
Sy vorige beste posisie is 140ste.
Dit is nog ’n lang pad na ’n plek tussen die voorste 100, maar dié 27-jarige Stellenbosser speel tans die beste tennis van sy loopbaan en het dus nie ’n onbegonne taak nie.
“Ek het ’n goeie jaar tot dusver. Ek voel goed oor my spel,” het Van der Merwe, wat vroeër vanjaar ook die halfeindronde van die SA Ope gehaal het, gesê.
“Die wêreldranglys is ’n goeie maatstaf.
“Dit is nie altyd die beste weerspieëling van jou spel nie, maar dit bly die maatstaf waarvolgens jy jouself meet.
“En as jy nie tussen die top-100 is nie, is dit jou vernaamste doelwit.”
Van der Merwe se wen-verloor-rekord in 2011 is 11-8.
Vir Van der Merwe is elke nuwe seisoen ’n poging om op die vorige te verbeter.
In 2011 slaag hy tot nou goed daarin.
Hy het met sy vertoning in die SA Ope die eerste keer die halfeindstryd van ’n ATP-toernooi gehaal en met sy oorwinning in Soweto verbeter op sy plek in die eindstryd verlede jaar.
Hy het toe teen Dustin Brown van Duitsland verloor wat hy vanjaar in die halfeindronde uitgeskakel het.
Die Soweto-oorwinning was die tweede Challenger-titel van Van der Merwe se loopbaan.
Sy ander toernooi-sege was verlede jaar in Brasilië.
“Ek wil graag bou op vanjaar se goeie uitslae,” het Suid-Afrika se naasbeste speler gesê.
“Ek gaan in ’n paar nuwe toernooie speel en probeer om verder te vorder in dié wat ek wéér aanpak.”
Van der Merwe se kleibaan-seisoen begin volgende week.
Hy gaan in ’n paar toernooie in Florida, Amerika, speel voordat hy Europa toe gaan waar hy gaan probeer om vir die Franse Ope te kwalifiseer.
Dit sal ’n eerste Vir Van der Merwe wees as hy vir die Franse Ope kwalifiseer. Dit is die enigste Grand Slam-kleibaantoernooi van die jaar. Dit word van 17 Mei tot 5 Junie in Parys gespeel.
Wimbledon is tot dusver die enigste Grand Slam-toernooi waarvoor Van der Merwe kon kwalifiseer.
- Sport24
- Volg Nuus24 op Twitter.