Is SA reg vir Olimpiese Spele in 2020?
2010-06-25 08:01
Tom de Wet, Die Burger
Wes-Kaap – Die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 en die Olimpiese Spele in 2020.
En tussenin verskeie ander groot sportbyeenkomste, soos krieket se Twintig20-kampioeneliga later vanjaar.
Dít is van die planne wat politieke leiers en sportadministrateurs nou al maak om die golf van opwinding, sukses en nasiebou rondom die sokkertoernooi vir die toekoms te ry.
Pres. Jacob Zuma het die Spele-vuurtjie al Woensdag aangesteek toe hy, na berig word, gesê het: “Ek dink ons kan dit doen.”
Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, is ook voor in die koor met: “Laat ek dit duidelik stel: dis op ons sakelys, maar geen besluit is nog geneem nie.
“Ek gaan Vrydag met die lede van die burgemeesterskomitee daaroor (’n Kaapse bod vir die Olimpiese Spele) praat.
“Maar kom ons praat ná die uiters suksesvolle aanbieding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi weer daaroor. Dit sal vir ons wys of ons die Spele kan aanbied. As ons misluk, sal ons sukkel om die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) te oorreed om die bod aan ons toe te ken.”
Tubby Reddy, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sportraad en Olimpiese Komitee (Sascoc), het bevestig dat daar al geruime tyd oor ’n bodaansoek vir die Spele in 2020 gepraat word, veral nadat Rio de Janeiro verlede jaar in Kopenhagen gehoor het dat hy die Spele in 2016 aanbied.
“Daar is toe gesê dit gaan nou na Suid-Amerika, en Afrika moet volgende wees.
“Ons het met die Wêreldbeker-toernooi gewys ons het die vermoë om ’n wêreldklas-byeenkoms aan te bied. Die president (Zuma) het reeds gesê ons moet vir die Spele probeer, en die voorsitter van die IOK (Jacques Rogge) praat ook daaroor.
“Ons sal ons huiswerk moet doen, met die nasionale regering moet praat, ons behoeftes moet bepaal en kyk wat dit die land gaan kos, én of daar stede is wat daarin belang stel om die Spele aan te bied.
“Ons sal een gasheerstad moet kies en dan moet almal saamstaan. As ons as nasie saamstaan, soos ons nou met die Wêreldbeker saamstaan, dan sal ons suksesvol wees.”
Reddy word gesteun deur dr. Nikolaus Eberl, ’n handelsmerk- en bemarkingsontleder: “Dis nou die regte tyd. Die geesdrif en opwinding is daar. Die infrastruktuur is daar. Suid-Afrika het gewys hy kan groot byeenkomste suksesvol aanbied en veiligheid waarborg – en Suid-Afrikaners is reg om die wêreld te verwelkom.”
Sugen Pillay, internasionale byeenkomsbestuurder van SA Toerisme, het bygevoeg: “Dit is belangrik dat ons die Wêreldbeker gebruik om ons as ’n belangrike bestemming vir groot byeenkomste te vestig.
“Die IOK vergader juis aanstaande jaar in Durban, en dieselfde komitee sal later oor die Spele in 2020 moet besin. Ek hoop Suid-Afrika gaan ’n bod-aansoek daarvoor doen.”
- Die Burger