IAAF sê Vrydag oor Semenya
2009-11-14 09:07
Londen - Caster Semenya, die Suid-Afrikaanse tiener Wêreldkampioenatleet wat in omstredenheid oor haar geslag gehul is, sê sy is 'n vegter wat nooit tou opgooi nie.
Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) maak Vrydag 'n aankondiging oor geslagstoetse wat vroeër op Semenya gedoen is.
Die IAAF kan haar lewenslank skors, haar vra om 'n operasie te ondergaan of kan geen aksie neem nie.
Semenya, wat in Augustus die 800m-titel by die Wêreldkampioenskappe in Berlyn gewen het, het aan aan die Britse koerant Guardian gesê sy hou nie so baie van die idee om bekend te wees nie.
"Mense wil my nou aankyk. Dit is nie so maklik nie. Die universiteit is ok, maar daar is nie baie ander plekke waarheen ek kan gaan nie."
Semenya sê tussen haar oefengroep en by haar afrigter, Michael Seme, kan sy net haarself wees.
"Almal aanvaar my. Hulle weet wie ek is. Vir die ouens is ek net Caster. Ek voel baie beter by Seme en die atlete."
Sy het gesê hoewel "ek nie meer inkopies kan gaan doen nie," het haar wêreldwye "sterstatus" haar nie verander nie.
"Dit is belangrik dat ek dieselfde bly. Ek weet wie ek is. Ek kan nie verander wat mense (oor haar) sê nie. Ek is 'n vegter. Ek gooi nooit tou op nie en ek het geweet ek gaan beter word."
Atletiek Suid-Afrika is vroeër vandeesmaand deur Suid-Afrika se Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) geskors oor die hantering van die Caster Semenya-saga.
– Sapa-AFP