IAAF-hoof belowe oplossing vir Semenya
2010-05-16 17:39
Johan van Wyk
Johannesburg - Caster Semenya sal einde Junie (uiteindelik) hoor of sy met haar atletiekloopbaan kan voortgaan.
Lamine Diack, grootbaas van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), het Vrydag in Doha, Katar, die IAAF se lang stilswye oor die SA wêreldkampioen in die 800m verbreek.
Luidens berigte het Diack gesê: “Ons sal ’n oplossing vir die geval Semenya nie later nie as einde Junie bereik. Hierdie geval is ’n bitter moeilike situasie – en dis moeilik vir almal.”
Semenya het sedert sy die wêreldtitel in Augustus verlede jaar in Berlyn gewen het, nog nie weer deelgeneem nie.
Haar planne om vroeër vanjaar in Suid-Afrika aan ’n Geelbladsye-byeenkoms én die SA junior (onder 20-) kampioenskappe deel te neem, is deur die tussentydse bestuur van Atletiek Suid-Afrika (ASA) in die wiele gery toe hulle gesê het sy mag nie hardloop vóór ’n IAAF-beslissing nie.
Sy het agterna gesê sy sal veg om wél weer vanjaar te hardloop, nadat die IAAF nie Australiese mediaberigte wou erken óf ontken waarin gesê is dat sy dubbelslagtig is nie.
Sy is sedert Berlyn aan verskeie toetse onderwerp en daar is selfs in sekere kringe bespiegel dat sy sedertdien “behandeling” ontvang het.
Semenya het onlangs aangedui dat sy op 24 Junie saam met verskeie van haar landgenote in Zaragoza, Spanje, wou aantree – maar ook dié voorneme lyk nou uiters onwaarskynlik.
Intussen bestaan die moontlikheid dat twee gewese supersterre, Sebastian Coe van Brittanje en Sergei Bubka van die Oekraïne, eersdaags in ’n wedloop om die IAAF-presidentskap betrokke kan wees.
Diack (77) oorweeg dit tans om hom in 2012 as president van Senegal beskikbaar te stel.
Hy sal homself weer volgende jaar vir die IAAF-presidentskap beskikbaar stel, maar sal ’n jaar later uittree as hy na sy land se presidentspos mik.
Sowel Coe, in sy fleur koning van die middelafstande, as Bubka, steeds wêreldrekordhouer in die paalspring, is tans vise-presidente van die IAAF.
- Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.