IAAF betreur politiekery oor toets
2009-08-27 06:41
Wilhelm de Swardt
Johannesburg - Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sal nie toelaat dat sy geslagsondersoek na Caster Semenya, die 800 m-wêreldkampioen, ’n politieke speelbal word nie.
“Ons beskou die ondersoek suiwer as ’n sportaangeleentheid wat onder die vaandel van die IAAF en volgens sy reëls gedoen moet word,” het Nick Davies, ’n woordvoerder, in ’n e-pos geskryf.
Volgens hom sal dit jammer wees as sekere politici die ondersoek vir politieke gewin wil misbruik.
Davies het gesê hy is glad nie bewus van Leonard Chuene, voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA), se bewering dat die IAAF deur ’n Suid-Afrikaanse mediagroep gevra is om ondersoek na Semenya se vroulikheid in te stel nie. Die IAAF het van haar bewus geraak ná ongelooflike verbeterings in haar wedlooptye.
“Volgens die reëls van die IAAF het ons die reg en ’n verpligting om ondersoek in te stel as ons vermoed ’n atleet is nie volkome vroulik nie. Dit is ’n erkende feit dat sekere fisieke eienskappe, soos verhoogde testosteroonvlakke, ’n atleet sal bevoordeel in vrouewedlope.
“ ’n Gemiddelde mansklubatleet is daartoe in staat om vrouewêreldrekords te verbeter. Daarom rus daar ’n verpligting op ons om seker te maak die speelveld is gelyk.”
Davies het gesê dit is vir hom vreemd dat ASA volhou hy is onbewus van die Semenya-ondersoek. “Die IAAF is in direkte kontak met die Suid-Afrikaanse spandokter, Harold Adams, wat ook lid is van die IAAF se mediese paneel. Dit is vir my vreemd as Chuene nou skielik beweer Adams is nie deel van ASA nie.”
Volgens Davies is daar reeds vroeg vandeesmaand begin om Semenya te toets.
Sy is reeds onderwerp aan ’n reeks ingewikkelde toetse in spesialishospitale in Suid-Afrika en Duitsland.
Hy het gesê hy is nie seker wanneer die finale uitslae bekend sal wees nie. Dit kan nog ’n paar weke duur, maar dit kan ook gouer wees.)
- Die Burger