IAAF: Semenya-toetse amper reg
2009-09-09 02:31
Londen - Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sal eersdaags die uitslae van geslagstoetse op Caster Semenya gereed te hê.
’n Woordvoerder vir die IAAF, Nick Davies, het Dinsdag aan Associated Press gesê medici en opkikker-kenners sal rondom twee weke neem om die toetsresultate te analiseer.
Davies het verduidelik dat die atletiekbeheerliggaam slegs met dié konkrete bewyse ’n besluit oor Semenya sal neem.
Dit is onwaarskynlik dat die 800 m-wêreldkampioen van haar medalje ontneem sal word, ongeag die resultate van die geslagstoetse op haar, het die woordvoerder bygevoeg.
Die 18-jarige Suid-Afrikaanse atleet vind haarself in ’n storm van spekulasie oor haar geslag ná haar oorwinning in die 800 m-wedloop vir vroue by die Wêreldkampioenskappe verlede maand in Berlyn.
- Sapa-AP