IAAF: ASA het verkeerde atlete betaal
2010-05-24 16:40
Johannesburg - Attila Spiriev van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) het Maandag bevestig dat Atletiek Suid-Afrika (ASA) R305 000 se prysgeld in die 2010-seisoen aan die verkeerde atlete uitbetaal het.
Spiriev en sy pa het die IAAF-puntetabelle geskep, wat ook deur ASA gebruik word om te bepaal wie prysgeld tydens die Geelbladsye-reeks ontvang.
Hy het Maandag bevestig dat Arnaud Malherbe, waarnemende voorsitter van ASA se atletekomitee, korrek bereken het dat R305 000 in prysgeld verkeerdelik aan vyf atlete toegestaan is.
ASA se assistent administrateur, Richard Stander, het al verskeie kere ontken dat enige berekeningsfoute gemaak het, en dring daarop aan dat die prysgeld korrek uitgedeel is.
Die middelafstandatleet Mbulaeni Mulaudzi gaan tot dusver egter nie sy prysgeld van R15 000 aanvaar ná hy die 800m-wedloop tydens die Geelbladsye-byeenkoms verlede maand in Germiston gewen het nie.
Malaudzi het 1 159 punte ingepalm met sy oorwinning.
Die hekkiesatleet Cornel Fredericks het egter 1 167 punte gekry vir 'n wen in die 400m-hekkieresies, en moes na regte as topatleet van die byeenkoms bekroon word, het Malaudzi se bestuurder, Peet van Zyl, Maandag gesê.
Fredericks moet glo ook die R100 000 betaal word wat Ruben Ramolefi, 3000m-hindernis rekordhouer, as Atleet van die Seisoen verower het.
"Mbulaeni keer vandag uit Europa terug, en ek sal dit met hom bespreek," het Van Zyl Maandag gesê, "maar gebaseer op die puntestelsel aanvaar ons op die stadium nie die prysgeld nie.
- Sapa
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.