Hushovd verras in Pireneë
2011-07-16 10:46
Kaapstad – Thor Hushovd (Garmin-Cervélo) het diegene wat meen dat naelryers nie skofte in die Pireneë-gebergtes kan wen nie Vrydag verkeerd bewys toe hy die Tour de France se 13de skof gewen het.
Daar is voorspel dat ’n klein groepie jaers in dié skof – van Pau na Lourdes (152.5 km) – sou wegbreek omdat die Col d’Aubisque (16 km) die enigste noemenswaardige klim op die roete was.
Maar niemand sou geld daarop verwed het dat Hushovd, ’n voormalige wenner van die groentrui (punte-afdeling), sou wen nie.
Hushovd, die huidige wêreldkampioen in padfietsry, het met sy heldhaftige vertoning bewys dat waar ’n wil is, is ’n weg.
Hy het baie slim gery, want vroeg in die skof het hy saam met nege ander jaers weggekom.
Aan die voet van die Col d’Aubisque het hy almal onkant betrap toe hy die eerste jaer was wat versnel het. Dit het daartoe gelei dat hy op sy eie voor gejaag het.
Jérémy Roy (FDJ) en David Moncoutié (Cofidis) was die enigste twee jaers wat hom kon inhaal en verbysteek.
Die twee Fransmanne se taak is vergemaklik, aangesien hulle byna 10 kg minder weeg.
Maar toe daar teen die afdraande eindstreep toe gejaag is, was Hushovd se ekstra kilogramme sy grootste bondgenoot.
Hy het Moncoutié vroeg ingehaal, maar hy het Roy eers 2 km voor die eindstreep verbygesteek.
Toe was daar geen keer aan dié Noorweër nie.
Hushovd se wentyd was 3 uur 47 minute en 36 sekondes. Moncoutie het tweede, 10 sekondes later, oor die eindstreep gejaag. Roy was derde, 26 sekondes agter.
Dit was die negende keer dat Hushovd ’n skof in die Tour gewen het.
Roy was bewoë toe hy oor die eindstreep jaag, want hy was in 13 skofte en vir meer as 500 km voor in wegbreekpogings. ’n Sege ontwyk hom steeds.
Sy aggressiewe rywerk was nie vergeefs nie, want hy is die nuwe voorloper in die bobaas van die berge-afdeling nadat hy Donderdag eerste by die bopunt van die Tourmalet-klim was en Vrydag eerste by die Col d’Aubisque.
Thomas Voeckler (Europcar) is steeds die algehele voorloper, maar die kans is skraal dat hy die geeltrui in vandag se skof, wat ses klimme insluit, sal behou.
Die Schleck-broers, Fränk en Andy (Leopard Trek), kan weer met ’n grootse poging vorendag kom.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.