Huldeblyke stroom in vir F1-dokter
2012-09-13 15:23
Londen – Professor Sid Watkins, die dokter wat Ayrton Senna behandel het ná sy noodlottige ongeluk in 1994 in Imola, is Woendagaand in die ouderdom van 84 oorlede.
Formule Een-renjaers het Donderdag hulde gebring aan Watkins, wat sedert die Senna-ongeluk gehelp het om ingrypende veiligheidsmaatreëls by renbane in te stel.
Watkins het die lewens van Ferrari se Didier Pironi by die 1982 Duitse Grand Prix, Jordan se Rubens Barrichello by Imola in 1994, en McLaren se Mika Hakkinen in Adelaide in 1995 help red, tydens ‘n loopbaan wat oor 26 jaar gestrek het.
“Dit was Sid Watkins wat my lewe in Imola 94 gered het. ‘n wonderlike man, altyd opgeruimd…dankie vir alles wat jy vir ons renjaers gedoen het. RIP,” het Barrichello aan sy 1,7 miljoen volgelinge op Twitter gesê.
“RIP Prof. Sid Watkins. Hartseer nuus vir ons wat agter bly,” het Senna se neef, Bruno, wat vir Williams jaag, getweet.
McLaren se uitvoerende hoof en ‘n goeie vriend van Watkins, Ron Dennis, het gesê: "Vandag het die wêreld van motorsport een van sy ware legendes verloor."
“Nee, hy was nie ‘n renjaer nie. Nee, hy was nie ‘n engineer nie. Hy was ‘n dokter en een van die mense wat waarskynlik die meeste gedoen het om Formule Een veiliger te maak.”
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP