Horlosiemaker haal Tiger uit advertensies
2009-12-19 05:05
Genève - Die Switserse horlosiemaker Tag Heuer sê hy gaan nie langer Tiger Woods se foto's in reklameveldtogte in Amerika gebruik nie.
Jean-Christophe Babin, uitvoerende hoof van Tag Heuer, het aan die koerant Le Matin gesê die maatskappy reageer op "onlangse gebeure" waarby die gholfspeler betrokke is.
"Ons erken Tiger Woods as 'n goeie sportman, maar ons moet die sensitiwiteit van sommige verbruikers in ag neem."
Woods het aangekondig dat hy 'n onbepaalde breuk van die sport gaan neem om aan sy huwelik te werk.
Babin het gesê Tag Heuer gaan aanhou om Woods se liefdadigheidsstigting te ondersteun.
– Sapa-AP