Hokkie-breier hou nog spelers dop
2010-07-27 08:13
Kaapstad - Giles Bonnet het verskeie doelwitte voor oë vir Suid-Afrikaanse vrouehokkie en een daarvan is om seker te maak die Proteas het diepte.
Die Proteas se afrigter het verlede week by die nasionale toernooi in Oos-Londen gesê hy fokus nie net op die spelers in die span nie, maar hy gee ook aandag aan ’n groep wat geïdentifiseer is as spelers met potensiaal.
“Ek gaan almal ’n geleentheid gee.” Hy het dit ook beklemtoon dat die spelers wat nie die oefenkampe kan bywoon nie, nie buite rekening gelaat sal word nie.
’n Groep van 30 spelers neem aan ’n oefenkamp in Durban deel en sal volgende week ook aan een in Stellenbosch deelneem.
Vier spelers wat deel is van die vergrote nasionale groep kon nie albei kampe bywoon nie. Hulle is Cindy Brown, Vidette Ryan, Louise Coertzen en Julia Cass.
Dié spelers sal in die komende dae toetse in Bloemfontein ondergaan. Bonnet verwag volkome toewyding van sy spelers en daarom was daar nie ’n keuse van die een of die ander kamp bywoon nie.
Die groep vir die Wêreldbeker-toernooi word op 7 Augustus bekend gemaak. Dít is wanneer die tweede oefenkamp in Stellenbosch tot ’n einde kom.
Die WB-toernooi begin op 30 Augustus in Rosario, Argentinië.
Die nasionale sameroeper van keurders, Mickey Gordon, het gister die name bekend gemaak van 10 bykomende spelers wat indruk gemaak het tydens die Suid-Afrikaanse toernooi wat Suidelikes Saterdag gewen het.
Dié spelers is Bernie Coston, Mapule Makoena, Ncedisa Magwentshu, Catherine McNulty (almal Suidelikes); Tarryn Moses (Noordelikes); Faryn Halstead (KZN Raiders); Kara Stella (KZN-Binnelande); Cindy Tregoning (Wits); en Hettie Oosthuizen en Nicole Kemp (albei Vrystaat).
Die spelers is nie nou deel van die SA groep nie en sal ook nie die oefenkampe bywoon nie. Hulle is spelers wat indruk gemaak het en wat Bonnet en die keurders in gedagte hou.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24