Hewitt, Stosur slaan af op tuisbodem
2012-10-09 14:21
Sydney – Die Grand Slam-wenners Samantha Stosur en Lleyton Hewitt sal hul 2013-seisoen in Desember by die Brisbane-toernooi in Australië begin, het organiseerders van dié toernooi Dinsdag gesê.
Stosur, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het en negende op die ranglys is, sal graag beter wil doen as haar nederlaag verlede jaar in die tweede ronde.
"Ek het 'n paar goeie oorwinnings by die Brisbane Internasionaal gehad en wil graag meer hê. So hopelik sal dit in 2013 verander," het Stosur gesê.
Dit sal egter Hewitt, 'n voormalige VSA Ope- en Wimbledon-kampioen, se eerste verskyning by dié toernooi wees.
Hewitt (31), wat 105de gekeur is, het vanjaar die vierde ronde van die Australiese Ope en die derde ronde van die Olimpiese Spele in Londen gehaal nadat hy vroeër van 'n besering teruggekeer het.
Stosur en Hewitt sluit in Brisbane by Andy Murray, Serena Williams en Maria Sharapova aan vir die toernooi wat vanaf 30 Desember tot 6 Januarie plaasvind.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP