Herrie oor atleet se geslag
2009-08-19 10:29
Adnaan Mohamed
Kaapstad – Moet ek jou wys?
Dít was die reaksie van Suid-Afrika se nuwe 800m-sensasie, Caster Semenya, toe iemand haar gevra het of sy ‘n vrou is.
Semenya is die groot gunsteling om Woensdagaand as wêreldkampioen by die Wêreldkampioenskappe gekroon te word nadat sy haar twee uitdunne op indrukwekkende wyse gewen het.
Sy spog ook met met die vinnigste tyd (1:56.72) vanjaar.
Volgens haar afrigter, Michael Seme, is daar al vir ‘n geruime tyd spekulasie oor Semenya se geslag en hy voel dat dit belangrik is dat gerugte in die kiem gesmoor word om verdere omstredenheid te verhoed.
“Ons verstaan dat mense vrae gaan vra omdat sy soos ‘n man lyk. Dit is ‘n natuurlike reaksie en dis net menslik om nuuskierig te wees,” het Seme gesê.
Seme het gesê Semenya is onlangs die damestoilet by ‘n vulstasie in Kaapstad verbied omdat petroljoggies oortuig was dat sy ‘n man is.
“Sy het net gelag en gevra of sy haar broek kan aftrek en hulle kan wys dat sy ‘n vrou is.”
Die afrigter sê hy vind dit snaaks, maar het nie ‘n probleem daarmee nie omdat hy 100% seker is dat Semenya ‘n vrou is.
Ethel Manyaka, ‘n woordvoerder van Atletiek Suid-Afrika (ASA), het gesê ASA sal nie ‘n atleet na die Wêreldkampioenskappe stuur as hulle nie seker is oor die deelnemer se geslag nie.
“ASA se president, Leonard Cheuene, weet iets soos dié sal groot omstredenheid veroorsaak. Hoe gaan ons dit doen sonder om haar te vra om vir ons haar geslagsdele te wys?” het Manyaka gesê.
ASA het nie vir Semenya getoets nie.
Die webwerwe van twee vooraanstaande Australiese koerante, die Sydney Morning Herald en The Australian, het Semenya se geslag laat gisteraand in berigte in twyfel getrek.
Dié webwerwe beweer geslagstoetse is op haar gedoen en die kans is goed dat sy geskors sal word voor vanaand se wedloop.
Dié bewerings is deur ’n beampte van Atletiek Suid-Afrika uit Berlyn ontken.
Sport24