‘Harde man’ SA-kampioen
2011-02-07 09:50
Port Elizabeth - Darren Lill (DCM) het kenners Saterdagmiddag in Port Elizabeth reg bewys toe hy die Suid-Afrikaanse padren vir beroepsjaers gewen het.
In die aanloop tot dié wedren het byna elke tweede fietsrykenner nie gehuiwer nie om te voorspel dat Lill sou wen.
“Dit is ’n roete vir ’n harde man, iemand soos Lill,” was die verduideliking wat sy ondersteuners telkens gegee het.
Hulle was reg.
In die laaste rondte, dié een wat saak gemaak het, was dit Lill wat nog genoeg krag in sy bene gehad het om Burry Stander (Specialized Mr Price), Christoff van Heerden (MTN Qhubeka) en Johann van Zyl (Toyota SuperCycling Academy) moeg te ry.
Lill se wentyd in die ren van 155km was 4 uur 1 minuut en 34.4 sekondes.
Stander, een van die voorste bergfietsryers in die wêreld, het in die laaste drie meter genoeg gedoen om die silwermedalje voor Van Heerden se neus weg te raap. Ná sy sege kon Lill nie ophou “dankie” sê nie.
Van Heerden, wat vir 13 van die 18 rondtes in ’n wegbreekpoging voor gejaag het, was beslis die ongelukkigste jaer. Niemand het verwag dat ’n naelryer só lank in wat as ’n klimmersren beskou is, sou kon vasbyt nie.
Hy het verlede Dinsdag nog aan Maleisië se Tour de Langkawi deelgeneem, waar hy die vierde plek in die laaste skof losgejaag het. Hy was ook vierde in die punte-afdeling.
Van Zyl (Supercycling Academy) het die o.23-padren gewen. Hy was die ander jaer wat vir 13 rondtes voor gejaag het. Hy is ook die o.23-tydtoetskampioen.
Marissa van der Merwe (USN) het die vroue-ren oor 90 km in 2 uur 39 minute en 43.3 sekondes gewen. Robyn de Groot (Nashua Toyota) was tweede en Cherise Taylor (USN) derde.
Van der Merwe se sege het weer bewys dat aanhouer wen.
’n Mens kan verstaan dat sy dié oorwinning as een van haar bestes beskryf.
“Wat my sege spesiaal maak, is die feit dat ek die eerste wenner van die Carla Swart-wisseltrofee vir vroue is.
“Carla se oupa het vir ons ’n trofee uit hout gesny. Dit was vir my belangrik om dié trofee te wen omdat Carla as mens en fietsryer vir my baie spesiaal was.
“My oorwinning is net soveel hare, want ek weet as sy nog gelewe en deelgeneem het, kon die ren dalk anders verloop het.”
Swart, Suid-Afrika se voorste vroue-fietsryer, het drie weke gelede tragies gesterf toe sy voor ’n vragmotor ingery het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24