Haile Gebrselassie roep halt
2010-11-09 08:39
Pretoria - Haile Gebrselassie, die wêreldrekordhouer in die marathon en een van die veelsydigste en beste atlete wat die wêreld nog gesien het, het sy uittrede aangekondig.
Nadat hy Sondag weens ’n knieprobleem in die New York-marathon die handdoek ingegooi het, het die 37-jarige Ethiopiër die nuus bekend gemaak.
“Ek tree uit; dis tyd dat ek ’n ander werk kry,” het Gebrselassie gesê nadat hy ná 25 km besluit het genoeg is genoeg, berig Sapa-dpa.
Eergister se wedloop is deur sy landgenoot Gebre Gebrmariam, verlede jaar se wêreld-veldloopkampioen, in 2 uur 8 minute en 14 sekondes gewen.
Gebrselassie het vroeër al aangedui hy wil eendag in Suid-Afrika aan die Comrades-wedloop deelneem.
Dié vriendelike Ethiopiër met die aansteeklike glimlag het twee Olimpiese goue medaljes (in Atlanta en Sydney) in die 10 000 m verower. Hy het ook vier wêreldtitels oor dié afstand gewen.
Gebrselassie was die wêreldrekordhouer in sowel die 10 000 m as die 5 000 m voordat hy drie jaar gelede in Berlyn die eerste atleet tot nog toe geword het wat die marathon in minder as 2 uur en 4 minute (2:03:59) hardloop.
Hy was ook ’n veldloopatleet van wêreldgehalte, die wêreldkampioen in die halfmarathon en die binnenshuise wêreldkampioen in die 3 000 m en 1 500 m.
Tien jaar gelede het Gebreselassie die Keniaan Paul Tergat op die Olimpiese Spele in Sydney in ’n epiese naelloop wenstreep toe met ’n breukdeel van ’n sekonde geklop. Ses jaar tevore het Tergat die Ethiopiër in Stellenbosch om die goue medalje op die Wêreld-veldloopbyeenkoms geklop.
Gebrselassie se kop staan waarskynlik politiek toe. Hy het al by verskeie geleenthede gesê hy wil op dié vlak ’n bydrae lewer.
Gebrselassie, wat as kind skool toe en terug huis toe gehardloop het, is boonop ’n baie suksesvolle sakeman.
Die New York-marathon was waarskynlik ook die swanesang van Suid-Afrika se Olimpiese atleet Hendrick Ramaala, ’n voormalige kampioen in New York, wat ook al tweede en derde was. Soos Gebrselassie kon die 38-jarige Ramaala nie die wedloop voltooi nie.
Hy is deesdae waarnemende administratiewe hoof van Atletiek Suid-Afrika, ’n raadslid van die organisasie en ook betrokke by afrigting.
Edna Kiplagat van Kenia het die afdeling vir vroue in New York in 2:28:20 gewen.
In die rolstoel-afdeling was die voormalige Suid-Afrikaner Krige Schabort vierde, met die Kapenaar Ernst van Dyk, die Boston-koning, agtste.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24