Haile 3 min te stadig vir rekord
2010-01-23 07:05
Doebai – Hoewel die Ethiopiese atleet, Haile Gebrselassie, die Doebai-marathon gewen het kon hy nie daarin slaag om sy eie wêreldrekord te verbeter nie.
Die 36-jarige Gebrselassie het die 42.2 km wedloop in 'n tyd van 2:06:09, drie minute stadiger as sy wêreldrekord-tyd, voor die Keniaan Chala Dechase Beyene (2:06:33) en Eshetu Wendimu Tsige van Ethiopië (2:06:46) klaargemaak.
Hy het tydens die 2008 Berlyn-marathon die wêreldrekord met ‘n tyd van 2:03:59 gebreek.
‘n Dag voor die wedloop in Doebai, het Gebrselassie van rugpyn gekla en gesê dat hy die aand nie goed geslaap het nie.
Die Ethiopiër het na afloop van die marathon, gesê hy wou ‘n “bietjie beweeg” nadat die pasaangeërs by die 30 km merk gestop het, maar dat hy nie “na ‘n vinniger rat toe kon oorskakel nie”.
“Dit was ‘n moeilike oomblik en ek moes toe maar op ‘n ander taktiek besluit,” het Gebrselassie gesê.
Die marathon vir vroue is ook deur Ethiopiërs gedomineer met Mamitu Molisa (2:24:18) wat voor haar landsgenoot, Aberu Kebede Shewave (2:24:26) geëindig het.
Helena Loshanvang van Kenia het derde klaargemaak.
- Sapa