Groot stryd wag op Giniel en kie
2013-01-05 08:44
Johannesburg – ’n Enorme taak wag op Giniel de Villiers en sy span wanneer die Dakar-veldren Saterdag in Lima, Peru, begin.
Die wedren, wat sowat 8 000 km lank is, sal op 19 Januarie in Santiago, Chili, eindig.
Beeld berig onsekerheid oor die omgekeerde Dakar-roete is een van die span se grootste probleme. Die 470 jaers sal die eerste keer in die vyfjarige bestaan van die Suid-Amerikaanse Dakar nie in Argentinië aan die ooskus wegspring nie, en sal dus nie grondpaaie kan gebruik om op te warm nie. Jaers sal dadelik uit Lima die woestyn invaar.
De Villiers het op dakar.com gesê verlede jaar se derde plek was 'n groot oomblik, omdat dit Toyota se eerste poging was.
Dié keer sal die verwagting egter meer wees.
“Ons sal ná die derde of vierde sneldeel ’n beter idee van ons wenkans hê. Ons is nie die gunstelinge nie; die X-Raid-span se standaardenjin (BMW se X3-turbodiesel in die Mini) is steeds die beste,” het hy gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.